top of page
Writer's pictureNG Margate

OM LIEF TE HÊ SOOS JESUS

‘n NG Margate tuisgeloof Bybelstudie-reeks


OM DIE GEBROKENES LIEF TE HÊ

17 JUNIE 2020

ROMEINE 8:35-39


WELKOM BY ONS NUWE REEKS…

Die opdrag “om lief te hê” is een van die mees bekende opdragte in die Bybel. Ons almal het al die boodskap gehoor. Maar in ons wêreld is dit dikwels moeilik om ‘n voorbeeld van ware en onvoorwaardelike liefde te sien of selfs eerstehands te ervaar. Ons het egter die voorbeeld van Jesus Christus. Die boodskap van Christus dien as voorbeeld vir hoe liefde moet lyk – en hoe ons soos Jesus kan lief hê.

Groete,

Dr Mike & Ds Lerisa

ONS KOM VOOR GOD…

Kom ons word rustig in die teenwoordigheid van die Here.

Haal diep asem: in en uit.

Wanneer jy reg is, bid tot die Here.

YSBREKER

# Waar het jy die beste en slegste voorbeelde van liefde beleef?

# Hoe dink jy sal iemand jou manier van lief wees beskryf?

# Wat dink jy is die grootste behoefte t.o.v. liefde in die wêreld?

LOFPRYSING EN AANBIDDING

Ons gee vir jou die skakels vir die volgende liedere. Jy kan dit luister of saamsing. As jy nie YouTube wil gebruik nie, kan jy ook na die alternatiewe liedjies kyk.

Lofprysing

Kom ons loof die Here met die volgende liedere:

Stilte

Bid saam voordat jy na die volgende lied luister.

Aanbidding

Alternatiewe musiek:

Lofprysing en aanbidding

LB 162 U self het ons geroep Heer

TEKS

* Lees Romeine 8:35-39 en onderstreep die gedeeltes wat jou aanspreek.

** Lees Romeine 8:35-39 en gesels saam oor die gedeeltes wat vir julle uitstaan.

BOODSKAP

Het jy al ooit die ervaring gehad waar jy na jouself in die spieël kyk en nie die mens wat terugkyk, herken nie? Ek het al. Soms is ons lewens en ons aksies en ons denke so vreemd, dat ons onsself dikwels nie eens meer herken nie. Dit is ‘n eienaardige gevoel om verlore in mens se eie liggaam en lewe te voel. Dikwels kan hierdie ook soos ‘n groot, donker gat voel waaruit jy nie kan kom nie.

Miskien gebeur dit met ons omdat die lewe te gejaagd voel. Ons moet vinnige besluite neem; ons tyd is min en voor ons ons oë kan uitvee is die week verby. Wanneer ons dan terugkyk, weet ons nie altyd hoe ons by sekere goed uitgekom het nie. Ons weet ook soms nie hoekom ons sekere goed gedoen het nie. En namate ons hierdie patroon volg, hoe meer gespanne, hoe besiger en hoe onherkenbaar word ons lewens. Todat ons gebroke en gedaan op die bed neerval en wonder waar die tyd heen gegaan het.


Uitputting en uitbranding is ‘n groot gevaar in ons samelewing. Dit is ook dikwels iets wat met jou gebeur nog voordat jy weet dit het met jou gebeur. Wanneer jy hierdie uitbranding beleef, beleef jy ook dikwels anhedonië – dit is die psigologiese onvermoë om vreugde te ervaar in dinge wat normaalweg vir ons vreugde moet gee. Daarom is vriendskappe eweskielik moeilik; versorging van jou gesinslede voel onmoontlik en dit is soms net te veel moeite om selfs jouself te versorg.

Het ons al aan hierdie vorm van gebrokenheid gedink? Dat ons miskien net so uitgeput is dat daar nie eintlik iets is om nog vir iemand anders te gee nie? Gebrokenheid is soms ‘n onsigbare, onvoelbare, uitsiglose siekte.


Daarom is Romeine 8:35-39 soos die nuwe lig op ons pad. Want dit vertel van ‘n bron van lewe. Dit vertel van ‘n bron van liefde. So dikwels dink ons dat Christus se liefde vereis dat ons onsself van ons eie gebrokenheid moet genees voordat ons dit kan ervaar. Maar Christus se liefde sê dat dit juis slegs Sy liefde vir ons is wat ons kan genees. Ons kan net soos ons is voor Hom verskyn – in al ons gebrokenheid. Want Christus kan nie deur ons afgeskrik word nie. Dit is die kosbaarste boodskap van hierdie teks. Hierdie teks beklemtoon God se onvoorwaardelike liefde – daar is niks wat jy of enige iets of iemand kan doen wat kan maak dat jy nie voor God kan kom nie. Jesus se onvoorwaardelike liefde is die beker wat altyd giet. Ons kan maar met ons leë hande, bak-hand voor die Here staan. Elke keer. Elke dag. Meer as een keer. Daar is nooit einde aan Sy liefde nie.

Amen.

BESPREKING VAN DIE BOODSKAP:

# As die Here on so lief het, hoe dink jy moet dit ons aksies teenoor mekaar beїnvloed?

# Hoe dink jy kan ons mense wat ly aan anhedonië en uitbranding help?

# Dink jy dat die inperking mense se uitbranding bevorder het?

# Hoekom dink jy is ‘n gemeenskap of ondersteuningsnetwerk so belangrik wanneer ons praat oor ons eie gebrokenheid?

UITDAGING

Neem gerus hierdie oomblik om een van hierdie uitdagings aan te gryp (of albei te doen):

1. Maak kontak met of Dr Mike of Ds Lerisa as jy voel jy het die behoefte daaraan om met iemand oor jou uitbranding te gesels.

2. Vra Dr Mike of Ds Lerisa of daar nie iemand is met wie jy kan kontak maak om so daardie persoon te help nie.

AFSLUITING

* Lees die seënbede vir jouself en sluit daarna af met gebed.

** Lees die seënbede vir almal in die groep en sluit daarna af met gebed.

Mag die God van onvoorwaardelike liefde by jou wees en bly. Mag die Here jou beker weer vol maak. En mag jy weet dat jy altyd ‘n rusplek in Sy skaduwee het. Amen.

88 views0 comments

Recent Posts

See All

WAARDIGHEID

Comments


bottom of page