top of page
Writer's pictureNG Margate

NADER AAN GOD

Updated: May 23, 2020

22 April 2020

Hebreërs 4:14-16


INGENOOI DEUR GOD Bid die gebed in stilte of gesamentlik: “Gee my o Heer ’n stil hart sodat ek op U mag fokus. ’n Ruim hart sodat ek vir ander kan sorg. ’n Toegewyde hart sodat ek altyd naby U mag leef. ’n Sagte hart sodat ek ander mag liefhê.” Amen

YSBREKER Luister gerus die volgende video snit oor die orkes in die fliek “The Titanic” wat “ Nader my God” speel, terwyl die gedoemde passasierskip die Titanic sink. Watter emosies wek dit by u ? https://youtu.be/_RcVzevWX4U


LOFPRYSING EN AANBIDDING

Lofprysing U kan na die volgende liedere luister of die woorde u eie maak deur dit op u eie of in die groep voor te lees. Skakel na You Tube: Daar is niks-Retief Burger (https://youtu.be/ISaAxLAGNXY )

Liedboek lied: Alles, alles is genade Liedboek 244

TEKS ** Lees Hebreërs 4:14-16 en gesels saam oor wat in die teks vir jou / julle uitstaan.

BOODSKAP Die skeepsorkes van die Titanic, die gedoemde passasierskip speel in die fliek “The Titanic.” die lied: “Nader my God by U,” terwyl die skip sink. Hulle sterf almal in die tragedie. Die lied raak aan mens ongeag die konteks waarna jy daarna luister. Een van die opmerkings wat mense in tye van krisis soos hierdie maak, is dat dit hulle nader aan God gebring het. Vir elkeen sal dit iets anders beteken. Daar is baie mense wat vêr van God af voel. Hulle leef onder ’n wolk van veroordeling omdat hulle voel dat hulle nie werd is om naby aan God te kom nie. Hulle straf hulself en gaan met ’n lae selfbeeld deur die lewe.

Ek gee weer vir u Hebreërs 4:16. “ Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gehelp word.” Die skrywer vertel vir sy lesers dat hulle met vrymoedigheid naby aan God kan kom, ja tot by Sy genadetroon. Vrymoedigheid beteken dat jy in Christus die reg om sonder vrees of angs voor God te verskyn. Waar verkry jy daardie reg? Verse 14 en 15 van Hebreërs 4 gee vir ons die antwoord. Ons het ’n Hoëpriester. Dit was die een in die Ou Bedeling, die brugbouer, wat God se mense se saak voor God bepleit het, hulle saak voor God gestel het. Jesus doen meer: Hy maak nie net die pad na die Vader toe oop nie. Hy is ons Hemelse Advokaat by die hemelse troon. 1 Johannes 2:1. Ons verskyn nie meer voor ’n Hemelse hof waar ons vanweë ons sonde veroordeel word nie. Daar is vir die een wat glo, geen veroordeling meer in Christus nie.- Romeine 8:1.

Die goeie nuus gaan verder. Jesus ken ons. Hy weet wat maak dat ons soms ons koppe in skaamte laat sak. Hy vergeef ons oortredinge, sonder verwyt. Ja, Jesus gaan weer kom as Regter om te oordeel oor die lewendes en die dooies. Maar die Regter het klaar ons skuld vereffen. Kinders van die Here se name is in die boek van die lewe. Daarom hoef ons God nie te paai of om te koop nie.

Die troon van God is nie ’n troon van oordeel nie, maar een van genade. Die perspektief verander jou hele lewe. As mens ontdek dat om Christus wil God toeganklik is, dan wil mens om na Hom toe te vlug, om by Hom te skuil. Dan weet jy: Daar is geen hardheid nie, geen verwyte nie, geen veroordeling nie. Al is daar op aarde so min genade- by God is daar genade.

Wil jy nie ophou om jouself so te kasty nie? Wil jy nie jou sondelas voor die kruis kom neerlê nie? Daar is ’n hoofpad na die hart van God: Jesus, die weg en die waarheid en die lewe. Ons het vrye toegang tot die troon van genade deur die bloed van Jesus Christus wat al ons sondes in Sy liggaam gedra het. Soms bid mense: “Ag Here, gee ons dit of dat.” Soms is dit huiwerend asof God teen Sy sin vir ons goeie dinge wil gee. Alles is ons gegee, ook ons kindskap van God, ook die vergifnis van sonde, ook die vrymoedigheid om voor God te verskyn. Ja, daar is baie geloofsgewoontes wat ons kan beoefen om ons te help om nader aan God te leef, soos om daagliks ons seëninge te tel, of in alles dankbaar te wees, of om elke dag op ’n sekere tyd stil te word voor die Here. Dis egter nie die gewoontes wat ons vrymoedigheid gee om God te nader nie. Dit is Christus en Sy verdienste aan die kruis, wat aan ons die vrymoedigheid skenk. Mag ons bekend staan as mense wat genade verstaan en daarom genade betoon deur nie kwaad met kwaad te beantwoord nie, maar kwaad met goed. Deur nie boek te hou van die kwaad nie, maar mense sewentig maal sewe te vergewe, deur nie te probeer voorgee dat ons beter is as wat ons is nie, maar in Christus begenadigdes is, wat van genadebrood leef en genadebrood uitdeel. En onthou, as daar iets is wat jy voel tussen jou en God staan, sonde, of verwyte of wroeging, lê dit nou neer voor Sy Hemelse troon, kyk op en sien sy uitgestrekte hand. Die Koning op Sy troon is jou om Christus wil goedgesind. Dis ’n genadetroon. Hoe verander dit die manier waarop jy tot God nader?

BESPREKING VAN DIE BOODSKAP: # Het jy vrymoedigheid om God met enigiets in jou lewe te vertrou? Waarom sê jy so? # Hoe is jou Godsbeeld as kind gevorm? Watter beeld is by jou ingeprent? Een van God as Regter op Sy troon of een van God op sy troon van genade? Deel met mekaar hoe jy dink hierdie Godsbeeld by jou gevorm is. Hoe raak dit jou verhouding met God? # Hoe verander dit mens se lewe as jy besef dat die Here toeganklik is en nie teen jou is nie? # Hoe sal jy iemand help wat reken dat God ontoeganklik is? Gebruik hierdie dagstukkie hierbo as riglyn.

UITDAGING Word nou stil voor die Here en probeer jouself indink wat dit beteken dat God gereed staan om goed aan jou te doen. Praat nou met hom, bid nou tot Hom vanuit hierdie perspektief.

AFSLUITING Die genade van ons Here, Jesus Christus; Die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees is en bly by ons. * Lees die seënbede vir jouself en sluit daarna af met gebed. ** Lees die seënbede vir almal in die groep en sluit daarna af met gebed.

26 views0 comments

Recent Posts

See All

WAARDIGHEID

Commentaires


bottom of page