top of page
Writer's pictureNG Margate

MY VERLEDE...

OM TE GROEI... ‘n NG Margate tuisgeloof Bybelstudie-reeks


8 JUNIE 2020

JESAJA 43:18-19


ONS KOM VOOR GOD…

Ons gaan elke ontmoeting open met ‘n examen. ‘n Examen is ‘n gebed waarin ons reflekteer oor hoe ons ons lewens ervaar. Die examen het vyf stappe en ons nooi jou uit om die stappe op jou eie tyd te doen.


- Stilte

Word rustig in die teenwoordigheid van die Here. Haal diep asem en ervaar die teenwoordigheid van God by jou. Wanneer jy gereed is herhaal die volgende woorde: “Spreek Heer, spreek Heer, want U dienaar luister.”

- Gebed van dankbaarheid

Daar is niks wat jy nie ontvang het nie. Bedank die Here vir die dinge, mense en ervarings in jou lewe.

- Refleksie

Gesels met die Here oor wat in jou lewe tans gebeur. Lê die keuses wat jy die laaste tyd gemaak het aan Hom voor.

- Gebed van behoeftes

Bid tot die Here oor die tekortkominge wat jy in jou lewe mag ervaar. Bid om Sy helende krag.

- Gebed vir die toekoms

Waar het jy God nodig in die tyd wat voorlê? Smeek Hom om Sy leiding sodat jy kan inskakel by waar Hy reeds aan die werk is.

Amen


YSBREKER

# Wat kom in jou gedagtes op as jy na hierdie prentjie kyk?

# Kyk weer na die prentjie. Veral daar waar die spore nader aan mekaar beweeg. Watter tye in jou lewe het jy nader aan die Here gevoel en watter tye verder?

# Hoe voel jy oor die pad wat jou lewe tot hiertoe geloop het?


LOFPRYSING EN AANBIDDING

Ons gee vir jou die skakels vir die volgende liedere. Jy kan dit luister of saamsing. As jy nie YouTube wil gebruik nie, kan jy ook na die alternatiewe liedjies kyk.

Lofprysing

Kom ons loof die Here met die volgende liedere:

- In oceans deep (https://youtu.be/dy9nwe9_xzw)

- Shout to the Lord (https://youtu.be/tk5yLJbQCbI)

Stilte

Bid saam voordat jy na die volgende lied luister.

Aanbidding

- Open the eyes of my heart (https://youtu.be/idQ1n3cdgfo)

Alternatiewe musiek:

Lofprysing en aanbidding

LB 308:1-5

LB 505:1-4

TEKS

* Lees Jesaja 43:18-19 en onderstreep die gedeeltes wat jou aanspreek.

** Lees Jesaja 43:18-19en gesels saam oor die gedeeltes wat vir julle uitstaan.


BOODSKAP

Ons het almal mooi herinneringe van die verlede, maar daar is ook onaangename herinneringe wat diep in die onbewuste weggebêre is. Die probleem is dat ons dink die onverwerkte verlede speel nie meer ’n rol in ons hede nie, tot die een of ander ervaring of reuk of insident (dit word genoem ’n sneller), die onverwerkte emosies of trauma uit die verlede aktiveer en ons lewens soms deurmekaarkrap.


Watter rol speel onverwerkte emosies uit jou verlede? Dit kan ’n blokkasie veroorsaak in jou liggaam wat jou siek maak. Dit kan jou laat rondloop met skuldgevoelens wat jou emosioneel of geestelik siek maak. Dit kan maak dat jou verlede jou toekoms steel. Soos iemand dit stel:” Baie mense is vasgevang in tronke van die verlede sonder dat die tralies om hulle harte ooit raakgesien word.”


Israel se verhaal speel af teen die agtergrond van die Ballingskap. Dit was die gevolg van verkeerde keuses wat hulle in die verlede uitgeoefen het. Ten spyte van God wat hulle gedurig gewaarsku het om terug te keer na hul liefde vir Hom en hul naaste, het hulle hul harte aan ander gode verkwansel en ook hul medemense uitgebuit. Hulle het onreg liefgehad en losbandigheid vrye teuels gegee. Dit het gelei tot hulle huidige dilemma en hul met ’n gevoel van magteloosheid gelaat wat net nie wou weggaan nie.


Ons almal neem besluite wat goeie gevolge sowel as slegte gevolge vir ons lewe het. As ons terugkyk op ons lewenspad sal ons die plekke onthou waar ons verkeerde afdraaipaaie gekies het en seergekry het. Daar was ook plekke waar ons goeie keuses uitgeoefen het en die soet vrugte pluk van daardie besluite. Die uitdaging is om nie vas te val by gister nie. Die verlede moet nie ’n gevangenis word nie.


Vier jou lewe en dank die Here dat Hy jou tot hiertoe gebring het. Moet nie dat die seerkry van gister jou onderkry nie. Die ervarings van jou verlede is binne jou. Dit kan jou of vergiftig of verryk. Jy kan die verlede nie verander nie, maar wel die manier hoe jy daarna kyk en daarop reageer. Laat God jou deur Sy Gees innerlik genees en vertrou Hom daarvoor. Die Here, sê ons teks, maak ’n pad in die woestyn.


Is jy nog vasgevang in die tronk van die verlede? Oppas vir die leuens van die Satan wat sê dat jy nie uit daardie tronk kan ontsnap nie. Verkeerde oortuigings sluit mense in die tronk van die verlede op. God wil nie hê dat jy ’n gevangene van vrees of skuldgevoelens sal wees nie. Onthou dat Jesus die Bevryder is. Hy maak alles nuut. Die Here sê vir Israel dat Hy iets nuuts gaan doen. Hy gaan hulle uit hul situasie van vasgekeerdheid en ballingskap bevry. Dit is dalk tyd vir jou om aan te beweeg. Gister hoef nie soos vandag te wees nie. Jesus Christus se opstanding uit die dood het nuwe lewe gebring. Die Here laat in die droë wêreld riviere opspring. Kom ons vertrou die Here met ons verlede en fokus saam met Hom op die toekoms wat voorlê.


BESPREKING VAN DIE BOODSKAP:

# Hoe kan God ons en die gemeente help om nie vas te steek by teleurstellings uit die verlede nie?

# Hoe sal ons lewens lyk as ons God sou vertrou om iets nuuts in ons lewe en die gemeente te begin?

# Watter onverwerkte emosies of gedagtes uit jou verlede is daar wat jou verhinder om God se toekoms vir jou binne te gaan? Probeer dit neerskryf en gesels met jou iemand soos jou dominee daaroor.

# Gesels met mekaar oor hoe ons kan verhoed dat ons dieselfde foute van gister nie herhaal nie. Pas dit toe op jou eie lewe, maar ook die geskiedenis van Suid-Afrika.


UITDAGING

In hierdie Bybelstudie wil ons graag emosioneel en geestelik groei. Daarom gaan ons gedurende die “uitdaging”-tyd werk aan ons emosionele boompie. Teken vir jouself hierdie boom af. Na elke ontmoeting, spandeer tyd daaraan om jou boompie “te versorg” deur blare op te teken. Vir elke blaar wat jy teken, moet jy ‘n gedagte van die Bybelstudie neerskryf.

AFSLUITING

* Lees die seënbede vir jouself en sluit daarna af met gebed.

** Lees die seënbede vir almal in die groep en sluit daarna af met gebed.

Klaagliedere 3:23 –25 “Dit sal ek ter harte neem en om die rede bly ek hoop. Deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie. Daar is geen einde aan Sy ontferming nie. Dit is elke môre nuut. Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na Sy wil vra.”

25 views0 comments

Recent Posts

See All

WAARDIGHEID

Comentários


bottom of page