top of page
Writer's pictureNG Margate

MY EMOSIES

OM TE GROEI…

‘n NG Margate tuisgeloof Bybelstudie-reeks


5 JUNIE 2020

1 KORINTIËRS 13

ONS KOM VOOR GOD…

Ons gaan elke ontmoeting open met ‘n examen. ‘n Examen is ‘n gebed waarin ons reflekteer oor hoe ons ons lewens ervaar. Dit is nie baie anders as wat ons tot dusver elke keer gedoen het nie. Die examen het vyf stappe en ons nooi jou uit om die stappe op jou eie tyd te doen.


- Stilte

Word rustig in die teenwoordigheid van die Here. Haal diep asem en ervaar die teenwoordigheid van God by jou. Wanneer jy gereed is herhaal die volgende woorde: “Spreek Heer, spreek Heer, want U dienaar luister.”

- Gebed van dankbaarheid

Bedank die Here vir die dinge, mense en ervarings in jou lewe.

- Refleksie

Gesels met die Here oor wat in jou lewe tans gebeur.

- Gebed van behoeftes

Bid tot die Here oor die tekortkominge wat jy in jou lewe mag ervaar.

- Gebed vir die toekoms

Waar het jy God nodig in die tyd wat voorlê? Gesels met die Here daaroor.

Amen.


YSBREKER

# Daar is ‘n Disney fliek wat gaan oor emosies nl. Inside Out. Die fliek handel oor gepersonifiseerde emosie-karakters. Kyk na die prentjie om die verskillende karakters te sien.

# Watter karakter pas die meeste by jou? M.a.w. watter emosie ervaar jy die meeste?

# Was daar al oomblikke in jou lewe waarin jy gewens het dat jy meer/minder voel?

# Hoeveel beheer dink jy het ons oor ons emosies?

LOFPRYSING EN AANBIDDING

Ons gee vir jou die skakels vir die volgende liedere. Jy kan dit luister of saamsing. As jy nie YouTube wil gebruik nie, kan jy ook na die alternatiewe liedjies kyk.

Lofprysing

Kom ons loof die Here met die volgende liedere:

Stilte

Bid saam voordat jy na die volgende lied luister.

Aanbidding

Alternatiewe musiek:

Lofprysing en aanbidding

LB 221 Loof die Heer omdat Hy goed is

LB 266 Ons Vader

TEKS

* Lees 1 Korintiërs 13 en onderstreep die gedeeltes wat jou aanspreek.

** Lees 1 Korintiërs 13 en gesels saam oor die gedeeltes wat vir julle uitstaan.

BOODSKAP

Emosies is soms oorweldigend. Wanneer ons bv luister na vanoggend se lied die Onse Vader soos gesing deur Die Universiteit van Pretoria se koor, kan ons dit nie help as om meegevoer te word deur die emosie van die lied nie. Die kombinasie van woorde en musiek, roer die snare van ons emosies. Emosies kleur ons lewens in. Dit maak die goeie goed soveel beter…maar dit maak slegte goed ook soveel meer intens.


Daarom is dit ook nodig om in ‘n Bybelstudie wat handel oor groei na te dink oor ons emosies. Is dit moontlik dat ons nuwe en ander emosies kan ontwikkel en so groei ons emosionele spektrum? Is dit ook moontlik dat ons groei in die maniere hoe ons ons emosies beheer? Ek dink ons moet.

Daar is verskeie vorme van intelligensie, waarvan een emosionele intelligensie is. Emosionele intelligensie is die vermoë om jou emosies te verstaan, te gebruik en te reguleer sodat jy op gesonde en positiewe maniere stres kan verlig, beter kan kommunikeer, empatie kan toon, uitdagings kan oorkom en konflik kan hanteer. Daar is selfs baie boeke geskryf wat argumenteer dat emosionele intelligensie (EQ) selfs belangriker is as jou intelligensie kwofisiënt (IQ). Wat sal dit immers help as jy die wêreldse kennis bevat, maar geen gesonde manier het om dit in die wêreld uit te leef nie?


Daarom lees ons vandag die alombekende 1 Korintiërs 13, want hierdie teks gaan soveel dieper as net die ervaring dat dit mooi is. Die eerste gedeelte van hierdie teks (vs.1-3) beklemtoon immers dat selfs al het ons al die kennis, maar ons het nie liefde nie, is ons niks. Hierdie liefde is die emosionele intelligensie – dit is dieper as net ‘n emosie van liefde. Daarom lees ons verder (tot vers 7) dat die liefde waarvan hier gepraat word, eintlik ‘n leefstyl is. Dit is ‘n leefstyl gefokus op geduld, vriendelikheid, welvoeglikheid, vergifnis, regverdigheid en waarheid. Dit is ‘n leefstyl van geloof, hoop en verdraagsaamheid. Dit is nie net bloot ‘n gevoel van liefde nie – dit is ‘n totale oorgawe aan ‘n ander vorm van intelligensie. Wanneer iemand aan jou iets sleg doen, draai die ander wang. Wanneer iemand rusie met jou veroorsaak, maak jy vrede. Die liefde waarvan hier gepraat word is die emosionele intelligensie wat Christus vir ons voorhou, want wanneer als vergaan (en alles anders sal; vs. 8-10) sal slegs die liefde oorbly. Daar is immers geen kennis wat ons kan red nie, slegs die liefde van Christus.


Vir ons om dit werklik te besef, is baie moeilik, want ons wêreld bevorder en beklemtoon ‘n lewe waarin IQ/IK die belangrikste is. Daarom is dit ook so dat emosionele intelligensie onbeoefend agtergelaat word. Ons dink dat die beheer en verstaan van ons emosies natuurlik moet kom, maar die werklikheid is dat, net soos wat jy jou IK oefen, so moet ons ook ons emosionele intelligensie oefen. Net wanneer ons dit doen, kan ons groei – daarvan getuig vers 11 en 12.


Ons emosies is nie maar net iets wat met ons gebeur nie. Daar is nie eintlik iets soos: “Ek kan nie help om so te voel nie.” Daar is ‘n groter beweegrede agter ons emosies. Voel jy kwaad as jy op die pad in die verkeer is? Miskien is dit nie soseer die mense en die karre nie, maar die gevoel dat jy uitmis op tyd wat jy beter en meer produkdief kon gebruik het. Word jy hartseer as jy na ‘n sekere lied luister? Miskien herroep dit emosies van ‘n tyd in die verlede.


Ons moet ook op volwasse maniere ons emosionele intelligensie beoefen deur na te dink oor hoe ons stres verlig, hoe ons kommunikeer, of ons empatie kan toon ens. Want ‘n lae EQ vererger stres en ander gesondheidsprobleme soos angstigheid; dit maak jou ‘n groter risiko vir depressie; dit laat jou verstoot en verwerp voel en dit verbrokkel sosiale verhoudings.


Daarom is dit ons taak as gelowiges om ons emosionele intelligensie te bevorder en te verhoog, sodat ons dié in nood kan help. Want as ons met ‘n gesonde emosionele intelligensie die wêreld kan ingaan, sal ons ‘n veilige ruimte vir die depressielyer kan wees, ons sal die gebroke sosiale strukture in vrede kan herstel en ons sal kommunikeer met woorde van hoop, liefde en verdraagsaamheid.

BESPREKING VAN DIE BOODSKAP:

# Hoe vernuwe die denke aangaande emosionele intelligensie jou perspektief op ‘n teks soos 1 Korintiërs 13?

# Hoekom dink jy bevorder die wêreld eerder die IK as die emosionele intelligensie?

# Kan jy gapings van emosionele intelligensie in jou verhoudings raaksien?

# Kan jy tekortkominge in jou eie emosionele intelligensie raaksien?


UITDAGING

In hierdie Bybelstudie wil ons graag emosioneel en geestelik groei. Daarom gaan ons gedurende die “uitdaging”-tyd werk aan ons emosionele boompie. Teken vir jouself hierdie boom af. Na elke ontmoeting, spandeer tyd daaraan om jou boompie “te versorg” deur blare op te teken. Vir elke blaar wat jy teken, moet jy ‘n gedagte van die Bybelstudie neerskryf.

AFSLUITING

* Lees die seënbede vir jouself en sluit daarna af met gebed.

** Lees die seënbede vir almal in die groep en sluit daarna af met gebed.

Mag die God van liefde by jou wees. Mag God jou die insig en wysheid gee oor hoe om ‘n dissipel in hierdie wêreld te wees. Mag jy in geloof en hoop handel…maar meer as alles: mag jy in liefde leef. Amen.

120 views0 comments

Recent Posts

See All

WAARDIGHEID

Comments


bottom of page