OM TE GROEI…
‘n NG Margate tuisgeloof Bybelstudie-reeks
10 JUNIE 2020
FILIPPENSE 2:5-11
ONS KOM VOOR GOD…
Ons gaan elke ontmoeting open met ‘n examen. ‘n Examen is ‘n gebed waarin ons reflekteer oor hoe ons ons lewens ervaar. Dit is nie baie anders as wat ons tot dusver elke keer gedoen het nie. Die examen het vyf stappe en ons nooi jou uit om die stappe op jou eie tyd te doen.
- Stilte
Word rustig in die teenwoordigheid van die Here. Haal diep asem en ervaar die teenwoordigheid van God by jou. Wanneer jy gereed is herhaal die volgende woorde: “Spreek Heer, spreek Heer, want U dienaar luister.”
- Gebed van dankbaarheid
Bedank die Here vir die dinge, mense en ervarings in jou lewe.
- Refleksie
Gesels met die Here oor wat in jou lewe tans gebeur.
- Gebed van behoeftes
Bid tot die Here oor die tekortkominge wat jy in jou lewe mag ervaar.
- Gebed vir die toekoms
Waar het jy God nodig in die tyd wat voorlê? Gesels met die Here daaroor.
Amen.
YSBREKER
# Wat dink jy beteken die woord “behoeftebeker”?
# Dink jy dat iemand wat ‘n half leë beker het, iemand anders se beker kan probeer vol maak?
# Wat dink jy moet eers gebeur vir ons om mekaar se bekers te kan volmaak?
LOFPRYSING EN AANBIDDING
Ons gee vir jou die skakels vir die volgende liedere. Jy kan dit luister of saamsing. As jy nie YouTube wil gebruik nie, kan jy ook na die alternatiewe liedjies kyk.
Lofprysing
Kom ons loof die Here met die volgende liedere:
- Your unfailing love (https://www.youtube.com/watch?v=W2ktUul0xO0)
- Beautifully broken (https://www.youtube.com/watch?v=ce6PT-3sQGg)
Stilte
Bid saam voordat jy na die volgende lied luister.
Aanbidding
- God wat my sien (https://www.youtube.com/watch?v=CTwBZZyo6XA)
- Flam 8 (https://www.youtube.com/watch?v=LX1QGkzPq3A)
Alternatiewe musiek:
Lofprysing en aanbidding
LB 319 Lofwaardig is on God die Heer
LB 453 Aan die Vader dank en ere
TEKS
* Lees Filippense 2:5-11 en onderstreep die gedeeltes wat jou aanspreek.
** Lees Filippense 2:5-11 en gesels saam oor die gedeeltes wat vir julle uitstaan.
BOODSKAP
Een van die mooiste dinge wat enige iemand vir jou kan sê (beter as “ek is lief vir jou”) is: “Jy is waardig.” Wanneer iemand anders ons eiewaarde bevestig, voel ons nie net goed nie, ons voel werklik. Natuurlik weet ons dat ons waarde nie kom van ander mense af nie, maar vir iemand om jou waarde te bevestig, is steeds ‘n onsettende belangrike aspek van die lewe. Daarom is daar soveel maniere waarop ouers aangemoedig word om die waardigheid van hulle klein kinders te beklemtoon. Want ons is waardig.
Maar dikwels gebeur dit dat die wêreld ons oortuig dat ons minderwaardig is deur dinge soos rasisme, seksisme, boelie, shaming (skaamte) ens. Die kern oorsprong van hierdie -ismes is mense wat minderwaardige realiteite vir mekaar skep en ook beklemtoon. As ek immers aanhoudend vir jou gaan sê dat jy lelik is, gaan jy naderhand ook begin dink jy is lelik. Dit is ook wat gebeur het in die verhaal van Gypsy Rose Blancharde. Deur woorde kan ons mekaar se werklikhede vorm en selfs verdraai.
Hierdie hartseer waarheid kan ook dikwels vir vele ‘n eindelose put word waarin hulle vasgekeer voel. Om rassisme te beveg is immers geen maklike taak nie, veral nie as die hele samelewing ‘n verdraaide werklikheid oor jou beklemtoon en bevorder nie. So wat moet ons daaromtrent doen? Ons kan nie ons behoefte-aan-aanvaarding-beker gaan vol maak by hierdie mense nie, want hulle bekers is self leeg.
Daarom kan en moet ons na God toe draai, want God gee onvoorwaardelike aanvaarding en liefde. Miskien is dit iets wat te dikwels by ons vergete gaan: God het nie gewag dat ons ons eie bekers probeer vol maak nie, maar God het Sy oorvloedige beker oor ons half-opgedroogte bekers kom uitgiet. Dit is die boodskap van Jesus Christus.
Dit is dan ook hierdie boodskap wat maak dat ons as gelowiges in hierdie wêreld kan lewe. Ons lewe nie met die illusie dat ons beker nou vol en perfek is nie, maar ons lewe met die wete dat God ons gekraakte, leë bekers met watermerke op vat en onvoorwaardelik liefhet. Daarom gee dit ons ook nie die verskoning om aan te hou sleg doen nie, want ons wil ook hierdie werklikheid vir ander beklemtoon. Deur dade van dissipelskap beklemtoon ons nie ‘n verdraaide werklikheid van minderwaardigheid nie, maar eerder ‘n werklikheid waarin God se Koninkryk en Geregtigheid kan geskied.
BESPREKING VAN DIE BOODSKAP:
# Het jy al ooit minderwaardig gevoel?
# Dink jy dat daar soms dinge is wat jy doen wat ander laat minderwaardig voel?
# Jesus Christus het ‘n minderwaardige dood gesterf in die oë van Sy kruisigers. Die kruis was ‘n doodstraf vir oortreders. Kan jy sien hoe God die werklikheid van minderwaardigheid na eerbied omskakel? Hoe dink jy kan hierdie ons lewens beїnvloed?
# Hoe dink jy kan ons ons digitale werkliheid beter inrig om hierdie boodskap van Christus te beklemtoon eerder as minderwaardigheid?
UITDAGING
In hierdie Bybelstudie wil ons graag emosioneel en geestelik groei. Daarom gaan ons gedurende die “uitdaging”-tyd werk aan ons emosionele boompie. Teken vir jouself hierdie boom af. Na elke ontmoeting, spandeer tyd daaraan om jou boompie “te versorg” deur blare op te teken. Vir elke blaar wat jy teken, moet jy ‘n gedagte van die Bybelstudie neerskryf.
AFSLUITING
* Lees die seënbede vir jouself en sluit daarna af met gebed.
** Lees die seënbede vir almal in die groep en sluit daarna af met gebed.
Mag die God van onvoorwaardelike liefde by jou wees en bly. Mag jou beker oorloop. En mag jy braaf genoeg wees om dit met die wêreld te probeer deel. Amen.
コメント