top of page
Writer's pictureNG Margate

KONTAK MET GOD

Updated: May 23, 2020

‘n NG Margate tuisgeloof Bybelstudie reeks


1 Mei 2020

Hebreërs 1:1-5


INGENOOI DEUR GOD Kom nou tot rus by God en aanvaar die uitnodiging om in sy teenwoordigheid te wees. Gebruik musiek, lees jou geliefde Psalm in die Bybel, om stil te word, of raak net stil in jou omgewing. Dink na oor die week wat verby is. Vra die Here vir vergifnis, verandering en vertroosting, indien nodig. Dink na oor alles wat die afgelope dag (of week) goed was. Sê vir die Here dankie daarvoor.

YSBREKER Die tydperk van inperking raak lank vir sommige. Deel sommer met mekaar hoe jy voel om so sonder fisiese kontak met geliefdes te wees of skryf êrens jou gevoelens daaroor neer. Kontak met God

LOFPRYSING EN AANBIDDING U kan saam of alleen na die volgende lied luister of die woorde van die Liedboek u eie maak deur dit op u eie of in die groep voor te lees. Skakel na You Tube: Hoe groot is God (https://youtu.be/oXIxcxoG8qY?list=PL1bJGFVgfGe0wvipJixJxmT2BxBr1PoE8) Liedboek lied: Liedboek 159. God is hier teenwoordig.

TEKS ** Lees Hebreërs 1:1-5 en gesels saam oor wat in die teks vir jou / julle uitstaan.

Vermy die woorde: “Ons behoort”...in jou terugrapport. Begin dalk so: “ Ek dink die Here sê in hierdie teks......(En dan vertel jy wat jy gehoor of ervaar het toe jy die teks lees.)

BOODSKAP “Jammer, ek is op die oomblik van lyn af,” kom die boodskap via SMS na my toe. Dit gebeur nogal baie deesdae met die dramatiese toename in Internet verkeer. “Is God ook soms van lyn af?” Dis nogal ’n relevante vraag in hierdie dae.

Die tema vir vandag se Bybelstudie is egter: Kontak met God. Dit is ’n positiewe stelling. Die Bybel leer ons dat God nog nooit opgehou het om met die mensdom kontak te maak nie. Reg in die begin in Genesis 3:9 roep God na die mens met die vraag ”Waar is jy?” Dis na die sondeval en die mens in skaamte vir God gaan wegkruip het. Dwarsdeur die Bybel bly God in gesprek met die mens en veral dan ook met Sy kerk.

Hoor wat sê Hebreërs 1:1 en 2: ”In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou in hierdie laaste dae het Hy met ons gepraat deur die Seun. Veral die bediening van Jesus Christus soos ons dit sien in die vier evangelies, gee ons ’n duidelike insig aan wat God wou kommunikeer deur Sy Seun. God praat nog steeds. Hy het nog nie ophou kommunikeer met die mensdom nie. Soms voel dit egter of God van lyn af is. Soms is ons stiltetyd juis wat die is. Daar is net stilte. Stiltes hoef egter nie ’n bedreiging te wees nie. Sê die Bybel dan nie dat in stil wees en vertroue hê ons krag is nie? (Jesaja 30:15) In hierdie tyd van Korona voel ons afgesny van andere en soms ook van God. Benut hierdie tye van stilte om te hoor wat die Here deur Sy Gees vir jou sê. Dietrich Bonhoeffer het geskryf: “In the heart of silence is a wonderful power of observation, clarification, concentration on essential things.” Stilte is om na God te luister.

God het jou die afgelope week gekontak deur die reën wat geval het en gesê dat Hy sal voorsien. God het jou gekontak deur iemand wat jou gebel het en gesê het dat hy of sy omgee. God het jou gekontak deur jou Bybelstudie. God kontak jou nou terwyl jy na hierdie boodskap luister of dit deurwerk. God praat met ons land en die hele wêreld deur die omstandighede van die Korona pandemie, wat teken is van die gebrokenheid van hierdie gevalle en sondige wêreld. Wat sê Hy vir jou, vir die wêreld?

Daar is geloofsgewoontes wat jou kan help om die kontak met God te behou. Let op nie te bewerk nie. God bewerk die kontak deur Sy Seun. Kom ons lees weer die Bybel nie om net inligting te bekom nie, maar om God se stem daarin te hoor en Hom daarin te ontmoet. As jy die Bybel lees, lees dit ’n paar keer tot jou gedagtes vassteek by ’n woord of frase wat jou aanspreek. Gebruik jou sintuie om jou in die teks in te leef. Vra wat is God se uitnodiging aan jou in die teks. Dink deur die dag aan die teks. Praat met die Here daaroor. Op die ou end kan jy vir jouself afvra wat die Here vandag aan jou wou geleer het. Dit sal aanvanklik tyd in beslag neem om gewoond te raak aan die oefening maar dit sal makliker word. Jy kan dit so drie keer ’n week doen.

Ek wil jou nooi om die ou bekende Psalm 23 so te lees, asof die Here in hierdie Korona tyd baie spesifiek met jou praat. Byvoorbeeld: Die Here is my Herder. Lê klem op die woordjie “herder”. Hoe is hy jou herder? Waar sien jy Sy leiding? Waar het Hy jou gestop om iets te doen? Waar het Hy jou koers verander? Waar het Hy iets van jou gevra? Praat met die Here daaroor.

Nog ’n laaste woord oor kontak met God. Die bekende broer Lawrence het ’n boekie geskrywe met die titel: “The practise of the presence of God.” Hy het waar hy gekom het nederige diens gelewer deur byvoorbeeld ander se skottelgoed te was. Die kern van sy leer was: “ All life is lived in the presence of God. There is nothing to mundane or ordinary that is not permeated by Him.” Mag jy kontak met God maak vandag wanneer jy vir iemand ’n klip uit die pad rol, wanneer jy skottelgoed was, wanneer jy eet en besef dis Hy wat jou seën, wanneer jy asemhaal en besef dis Sy lug wat jy inasem, wanneer jy gee, van jouself of jou goed en besef Hy het alles gegee, Sy enigste Seun. God kontak jou elke dag. Wat is Hy besig om aan jou te sê?

BESPREKING VAN DIE BOODSKAP: # Het jy al in jou lewe tye van “geestelike droogte” beleef? Deel met mekaar jou ervaring en hoe die Here jou daardeur gehelp het. # Wat het die Here die afgelope weke tydens die Korona pandemie vir jou geleer? Hoe het die reekse Bybeltudies jou daarmee gehelp? # Dink jy dat sonde jou kontak met die Here kan verhinder? Bespreek die volgende teks uit Petrus oor onmin in di ehuwelik en die uitwerking daarvan op ons kontak met die Here. # Die Hebreërskrywer sê dat Jesus se koms (Hebreërs 1:2) die laaste dae ingelui het. Wat sou jy doen as vandag die laaste dag van jou lewe op aarde was? # Lees weer Hebreërs 1:1-5. Hoe praat God met ons in hierdie laaste dae deur die Seun? Dink aan ’n insident uit die lewe van Jesus wat jou aanspreek.

UITDAGING Ek wil jou uitnooi om vandag net in gebed stil te word vir drie minute. Moet niks bid nie. Luister net na die influistering van die Gees van die Here in jou hart. Wanneer jy klaar is, kan jy kyk na die versoek rondom ons dag van gebed wat kom van die gebedsgroep af. Vandag is dit ook dag van gebed in ons gemeente. Kyk in watter area jy val en praat met die Here deur die spesifieke gebed wat opgedra is aan jou waar jy woon in bv. Uvongo of Margate of waar ook al. gerig op daardie area.

AFSLUITING Bid hierdie gebed: O Here, dink aan u beloftes en vervul dit in ons lewens: waar ons swak is, gee krag. Waar ons verward is, gee leiding Waar ons ontsteld is, gee troos. Waar ons dood was, bring lewe Weg van U af, o Here, is ons niks. In en met U, kan ons alle dinge doen. Amen. * Lees die seënbede vir jouself of groep en sluit daarna af met gebed.

42 views0 comments

Recent Posts

See All

WAARDIGHEID

コメント


bottom of page