Erediens vir 17 Mei 2020
Jona 4
Hallo!
Ons het al twee nuwe dinge van die erediens geleer – kan jy onthou wat dit is?
# Wat is die erediens?
# En wat is die votum?
Goed, kom ons begin met ons erediens 😊
Votum
# Kan jy onthou wat beteken die woord votum nou weer?
Die votum is die woorde wat ons gebruik om na God te roep.
# Beteken dit dat God dan ver of weg is?
Nee, dit wil ons herinner daaraan dat God altyd by ons is. Daarom sê ons die woorde om ons daaraan te herhinner. Ons gaan vandag weer ‘n responsoriese votum doen.
# Kan jy onthou wat dit beteken?
Dit beteken dat iemand lees as die “leser” en dan gaan almal anders antwoord as die “gemeente”. Julle kan die woorde vooraf leer voordat julle die votum saam sê. Kom ons probeer:
L: Here, soms voel dit asof ek nie mooi weet wat om te doen nie.
G: Ja, Here, soms voel ek baie ver van U.
L: Daarom vra ek dat U by ons sal wees.
G: Ja, Here, wees by ons. Amen.
Rustig word
Kom ons haal diep asem.
Sit jou hand op jou bors. Voel jy jou hartklop?
# Staan jou hart ooit stil?
Nee, ons hart klop altyd.
# Hoekom moet ons harte klop?
Sodat ons kan lewe! Ons kan groei en sterk word.
Sê dankie vir die Here dat jy ook lewe.
Seëngroet
# Onthou julle nog hoekom ons mekaar groet in die kerk?
Ons groet mekaar om mekaar daaraan te herinner dat God altyd by ons is.
Gee vir elke persoon nou die geleentheid om die seëngroet te sê.
“Hallo! Jesus is baie lief vir jou. Ek is ook baie lief vir jou.”
Steek die Christuskers aan
Vanoggend steek ons die kers aan as ‘n herinnering dat God in ons lewens is. God help ons om goeie lewens te leef.
Lofprysing
Kom ons staan en ons loof die Here met alles in ons!
- He’s alive (https://www.youtube.com/watch?v=N29pfecIiYE)
- Dis so lekker om die Here te dien (https://www.youtube.com/watch?v=1yLfIxme3Uk&list=PLWg9DbnoESpnxUKJYz6msqOLZACOPPKHB)
- Staan op en sê nou (https://www.youtube.com/watch?v=e0t5yqwESrA&list=PLWg9DbnoESpnxUKJYz6msqOLZACOPPKHB&index=4)
- One way (https://www.youtube.com/watch?v=G689PlEXiXk&list=PLWg9DbnoESpnxUKJYz6msqOLZACOPPKHB&index=11)
Wanneer ek ‘n krisis beleef…
# Weet jy wat ‘n krisis is?
‘n Krisis is iets wat met ons gebeur wat ons soms bang kan maak of ons laat voel asof ons nie mooi weet wat om te doen nie.
# Kan jy aan sulke goed dink?
Soms is ‘n toets vir ons ‘n krisis.
Of soms wanneer ons en ons maatjies baklei is dit vir ons ‘n krisis.
En soms is daar groot krisisse wat met baie mense op een slag gebeur soos die Corona-virus, of aardbewings of armoede. Hierdie is alles krisisse wat ons soms bang kan maak of ons laat voel asof ons nie mooi weet wat om te doen nie.
Wat moet ek doen as daar ‘n krisis is?
# Het jy al ooit Finding Nemo gekyk?
Finding Nemo gaan oor twee anemoonvisse. Die Pa is Marlin en die seuntjie is Nemo. En op ‘n stadium raak Nemo weg! Marlin probeer die grootste deel van die fliek om weer vir Nemo te kry. Maar arme Marlin het ‘n klomp krisisse! As dit nie haaie is nie, is dit sardientjies wat nie wil saam werk nie en daar is selfs ‘n groot walvis wat hom en vir Dory insluk! So kom ons kyk die volgende video om net te onthou wat toe gebeur het. Die video se beeld is nie baie goed nie, maar miskien kan jy die DVD later vandag kyk: https://www.youtube.com/watch?v=aVVYr0kEBIg&t=35s Arme Marlin en Dory was vasgevang in die walvis se maag en dit was amper vir Marlin te veel. Hy het vir Nemo belowe dat hy hom sal beskerm sodat daar nooit enige iets met hom moet gebeur nie. Maar daar gebeur altyd goed met ons. Wanneer ons lewe, is daar altyd goed wat met ons kan gebeur. Marlin het so bang geword vir goed wat met hom kan gebeur dat hy vergeet het dat daar ook baie goeie goed is wat met ons gebeur. Wanneer ons ‘n krisis het, moet ons dit altyd onthou – daar is ook baie mooi goed wat met ons gebeur. Ons moet net kans sien om dit raak te sien. Daar is altyd goeie en slegte goed # Maar dink julle dit is altyd maklik om dit raak te sien? Nee, want wanneer ons bang is voel dit amper asof ons soos ‘n skilpad in ‘n dop wil gaan bly. Wanneer ons bang word in ‘n krisis, voel dit amper asof ons nie weet wat om te doen nie! So ons moet eers rustig word en van daardie bang gevoelens laat gaan. # Hoe dink julle doen ons dit? Ons kan dit doen deur te bid en vir God te vra om ons te help. God is altyd by ons. En God luister na ons gebede. Wanneer ons rustig word kan ons beter optree in ‘n krisis. Ons kan planne maak en kreatief met oplossings wees. En dit is hoeom ons baie groei in krisisse. # Wat beteken dit om te groei? Om te groei beteken dat ons groter en sterker word. Maar om te groei beteken ook dat ons slimmer word. Dit beteken ook dat ons leer hoe om beter lewens te leef. Die mense van Ninive In die Bybel lees ons van mense wat baie gegroei het in ‘n krisis, maar ons lees ook van iemand wat nie gegroei het nie. Daar was ‘n man met die naam Jona. Jona het geglo in God. Op ‘n dag het God vir Jona gevra om na die stad Ninive toe te gaan, want die mense daar het nie geglo in God nie. Maar Jona was nie lus om na die stad toe te gaan nie. Hy was kwaad omdat hy geweet het dat God die mense sal vergewe. Jona het gedink hy is beter as die mense van Ninive. Daarom probeer hy om weg te hardloop van God en hy beland op ‘n skip na Tarsis toe. # Maar kan mens weghardloop vir God? Nee. Toe daar ‘n groot storm was, het die mense op die skip bang geword en hulle het gesê dat dit Jona se skuld was dat daar ‘n storm was. Daarom gooi hulle hom oorboord. Jona moes seker baie bang gewees het! Maar toe kom daar ‘n groot vis en sluk vir Jona in! Nou moes Jona eers bang gewees het! Toe Jona in die vis was, het hy besef dat hy nie beter weet as God nie. As God sê hy moet na Ninive toe gaan, dan sal hy na Ninive toe gaan. Toe het die vis vir Jona uitgespoeg. Jona het toe na Ninive toe gegaan en die mense van God vertel. Die mense het besef dat hy die waarheid praat en hulle het in God begin glo. God het toe besluit om nie die mense te straf vir die wat hulle verkeerd gedoen het nie. Toe is Jona is eers kwaad! So kom ons lees wat gebeur toe: 1Jona was baie ontevrede. Hy het kwaad geword 2en gebid en vir die Here gesê: “Here, toe ek nog in my land was, het ek geweet dit sal gebeur. Daarom wou ek dadelik na Tarsis vlug. Ek het geweet U is 'n God wat genadig is, U is goed vir mense wat swaarkry. U is geduldig en U is vol liefde. U vergewe mense se sonde maklik. 3Daarom, Here, laat my sterf. Ek wil nie lewe nie.” 4Die Here het gesê: “Dink jy dit is reg om so kwaad te word?” 5Jona het uit die stad geloop en hy het oos van die stad gaan sit. Hy het vir hom ‘n afdak gemaak en in die skaduwee gaan sit. Hy wou sien wat met die stad gebeur. 6Die Here het 'n plant laat groei, en die plant het skaduwee gemaak oor Jona se kop. Die son het hom nie gebrand nie. Jona was baie bly oor die plant. 7Maar toe dit lig word die volgende oggend, het God 'n wurm gestuur, en die wurm het die plant begin vreet. Die plant het toe doodgegaan. 8Toe die son opkom, het God ook 'n warm oostewind laat waai, en die son het Jona se kop gebrand. Jona het amper flou geword en hy het gewens hy gaan dood. Hy het gesê: “Ek wil sterf, ek wil nie lewe nie.” 9God het vir Jona gevra: “Dink jy dit is reg om kwaad te word oor die plant?” En Jona het gesê: “Ja, dit is reg! Ek is so kwaad dat ek kan sterf!” 10Die Here het vir Jona gesê: “Jy is bekommerd oor die plant, maar jy het dit nie geplant nie, jy het nie gewerk om dit te laat groei nie. Jy het nie die plant opgepas nie. Die plant het in die nag begin groei en dit het in die nag doodgegaan. 11Maar jy sê Ek mag nie bekommerd wees oor die stad Nineve nie. Dit is 'n groot stad, daar is meer as 120 000 mense in die stad. Hulle weet nie wat is reg en wat is verkeerd nie. Daar is ook baie diere in die stad. Mag Ek nie oor hulle bekommerd wees nie?” Jona het so kwaad vir God geword. Maar wat het God gedoen? God was net goed vir die mense. Jona kon nie verstaan hoe God steeds goed kan wees vir mense wat nie goed is nie. Maar Jona het God nie verstaan nie. Toe Jona ‘n krisis gehad het en nie geweet het wat om te doen nie, het hy weggehardloop vir God. En toe hy weer in hierdie deel ‘n krisis gehad het en nie geweet het wat om te doen nie, het hy kwaad geword vir God. Jona het nie gegroei nie. Jona het nie ‘n beter lewe gekies nie. Maar die mense van Ninive? Toe hulle ‘n krisis gehad het, het hulle van God gehoor en dadelik in God geglo. Hulle het God se hulp gevra. Hulle het geleer en gegroei en beter lewens geleef. # Soos wie dink julle moet ons leef? Ek dink ons moet besef dat ons uit alles wat met ons gebeur so kan leef dat ons steeds groei en beter lewens lewe. Lewens saam met God. Amen. Gebed Vra iemand om te bid.
Dankoffers
Gebruik nou die dankoffer-geldjie wat jy in die kerk sou ingooi en gooi dit in ‘n houer. Wanneer ons weer kerk het, kan jy jou houer saambring en dit alles daarin gooi.
Of julle kan nou ‘n elektroniese betaling aan die kerk maak deur EFT of SnapScan 😊:
ABSA BANK MARGATE - TJEKREKENING
REK NO: 329 0144 212
TAK NO: 528 628
Aktiwiteit Ons gaan vir ons groot visse maak! Dit sal ons help om te onthou dat ons in enige groot krisis steeds kan kies om na God te luister en beter lewens te leef. 1. Teken so ‘n vis op ‘n papier:
2. Kleur die vis in. 3. Knip die vis in die helfde. 4. Plak die twee helfdes op ‘n wasgoedpennetjie. Dit moet so lyk:
5. Nou kan jou vis se bek oop en toe gaan! 😊
Comments