Erediens vir 26 April 2020
Johannes 20:24-29
Hallo!
Kan jy nog onthou wat beteken “erediens”?
‘n Erediens is die tyd wat ons gee om ere te bring aan God.
Maar die erediens is ook die tyd wat ons gebruik om iets oor God te leer. Daarom het ons ook ‘n dominee om vir ons iets te vertel.
# Dink jy die dominee weet alles van God af?
Nee, ‘n dominee is maar net ‘n gewone persoon. Maar dit is die dominee se werk om te dink en te wonder oor God. Klink dit nie soos ‘n lekker werk nie? ‘n Dominee spandeer baie tyd daaraan om goed te lees oor God soos die Bybel. Dan kom die dominee en vertel dit vir die mense in die erediens.
So alhoewel daar nou nie ‘n dominee by jou in lockdown is nie, is hierdie Bybelstudie jou virtuele dominee 😊.
So kom ons begin met ons erediens.
Gebed
Sit op ‘n rustige plek en haal diep asem.
In en uit. Probeer dit so drie keer doen.
Sit nou jou hand op jou bors. Kan jy jou hartklop voel? Voel jy hoe jy asemhaal?
God het jou so mooi geskep.
Vra iemand om te bid.
Seëngroet
In die kerk groet ons mekaar in die Naam van God. Weet jy hoekom?
Ons wil mekaar herinner daaraan dat God altyd by ons is.
Gee vir elke persoon nou die geleentheid om hierdie woorde vir mekaar te sê:
“Hallo! Jesus is baie lief vir jou. Ek is ook baie lief vir jou.”
Steek die Christuskers aan
In die kerk steek ons ook die Christuskers aan.
# Is die Christuskers Jesus?
Nee, maar dit gee ons ‘n teken om te onthou dat Jesus in ons harte leef.
Vanoggend steek ons die kers aan as ‘n herinnering dat Jesus altyd by ons is. God is orals by ons.
Vra iemand om die kers aan te steek.
Of julle kan elkeen julle eie kers aansteek.
Lofprysing
Kom ons staan en ons loof die Here met alles in ons!
- This little light of mine (https://www.youtube.com/watch?v=cKkbIZtqhyQ)
- One way, Jesus (https://www.youtube.com/watch?v=PFlW1QEZ4w8)
DIE EERSTE LIEDJIE
- Wie’s die Koning van die oerwoud? (https://www.youtube.com/watch?v=aQ-dU3wn4AI)
- He’s alive (https://www.youtube.com/watch?v=N29pfecIiYE)
Wat beteken dit om te glo?
# Wat dink jy beteken dit as ons sê ons glo in God?
# Maar kan ons daardie gevoel van geloof sien? Of ruik? Of kan ons daaraan vat?
Geloof is nie iets wat ons kan sien of aan kan vat nie. Geloof is ‘n gevoel wat ons in ons harte kry. Ons kry daardie gevoel wanneer ons mooi musiek sing om God te loof. Of ons kry daardie gevoel wanneer ons bid. Soms kry jy selfs daardie gevoel wanneer jy die natuur sien of iets wat vir jou mooi is.
Maar net omdat ons nie aan geloof kan vat / ruik / sien nie…beteken dit dat dit nie bestaan nie?
Sien is nie altyd glo nie…
Ons glo sonder dat ons ons geloof kan sien of daaraan kan vat. Maar dit maak dit nie minder waar nie. Kom ons gesels ‘n bietjie oor wat waar is. Wat is regtig?
Is die tafel in jou huis regtig?
Ja.
Is die mense om jou regtig?
Ja.
Jy kan al daardie goed sien en daarom weet jy dit is regtig. Maar wat van die goed wat jy nie kan sien nie?
Het jy geweet dat ‘n babatjie in ‘n Mamma se magie groei vir nege maande! Dit is omtrent 280 dae! En dit is 6720 ure! Dit is baie lank. Maar voordat die Mamma se magie groter word van die babatjie wat groei, kan mens nie sien dat daar ‘n babatjie is nie. Het jy geweet dat wanneer ‘n babatjie begin groei is die babatjie 0.1mm groot – dit is omtrent so groot soos die breedte van ‘n haar. Jy kan dit nie eers op ‘n liniaal sien nie! Jy kan dit ook nie vashou nie.
Maar is daardie babatjie regtig?
Ja.
Nie alles wat regtig is, is goed wat ons dadelik kan sien of voel of hoor nie.
Maar hoe weet ek dan of God regtig is?
Soms gaan ons ook wonder of God regtig is. Want soms gaan dit voel asof ons God nie kan sien of vashou of selfs hoor nie.
# Het jy al ooit so gevoel?
Dit is okay as jy al ooit so gevoel het.
Tomas in die Bybel het ook so gevoel.
Kom ons lees wat gebeur met Tomas (Joh. 20:24-29, ABA):
Tomas was een van die twaalf dissipels. Die mense het hom “Tweeling” genoem. Hy was nie by die ander dissipels toe Jesus aan hulle verskyn het nie. Hulle het vir Tomas gesê: “Ons het die Here gesien.” Tomas het vir hulle gesê: “Nee, ek glo dit nie. Ek sal dit net glo as ek die plekke in sy hande sien waar die spykers was en as ek my vinger daar kan indruk. Ek sal dit net glo as ek my hand kan indruk in die gat in Jesus se sy.”
’n Week later was die dissipels weer bymekaar. Tomas was ook by hulle. Die deure was gesluit, maar Jesus het gekom en Hy het tussen hulle gaan staan. Hy het vir hulle gesê: “Ek gee vir julle my vrede!”
Toe sê Hy vir Tomas: “Kom, druk jou vinger hier in my hande en kyk, en kom druk jou hand in die gat in my sy. Jy moenie ongelowig wees nie, jy moet glo!”
Tomas het vir Jesus gesê: “U is my Here en my God!”
Jesus sê toe vir hom: “Jy het My nou gesien, daarom glo jy. Maar die mense wat My nie sien nie en wat in My glo, hulle sal regtig gelukkig wees.”
# Wat gebeur met Tomas in hierdie verhaal?
# Hoe dink jy sê Jesus moet ons geloof wees?
Jesus kom vertel vir die dissipels dat die mense wat Jesus nie kan sien nie, die gelukkigste is. Daarmee bedoel Jesus die mense wat glo sonder dat hulle gesien het. Dit is ek en jy. Ons was nie daar toe Jesus gekruisig is nie, maar ons glo daarin. Ons glo daarin, want ons weet liefde bestaan.
Ons kan ook nie altyd aan liefde vat / ruik / hoor nie, maar ons glo dat liefde bestaan, want ons voel dit. God woon in ons harte, daarom wanneer ons God daar voel, weet ons dat God regtig is.
Wanneer dit dan sleg gaan met ons en ons nie altyd God kan voel nie, kan ons net bid en vir God vra om by ons te wees. Want God is altyd daar. God sal ook nie kwaad wees as ons soms twyfel nie. Want niks kan ons wegvat van God se liefde nie – dit is die hele boodskap van die Bybel.
Dankoffers
Gebruik nou die dankoffer-geldjie wat jy in die kerk sou ingooi en gooi dit in ‘n houer. Wanneer ons weer kerk het, kan jy jou houer saambring en dit alles daarin gooi.
Of julle kan nou ‘n elektroniese betaling aan die kerk maak 😊:
ABSA BANK MARGATE - TJEKREKENING
REK NO: 329 0144 212
TAK NO: 528 628
Aktiwiteit
Vandag gaan ons ‘n vreemde aktiwiteit doen!
Kom ons kry elkeen ‘n klippie of ‘n mooi steentjie.
Gaan dan na julle tuin toe en begrawe daardie klippie. Elke dag as jy daar verby stap dan onthou jy die klippie. Net omdat jy dit nie kan sien / ruik / hoor nie, beteken dit nie dat die klippie nie meer daar is nie. As jy wil kan jy selfs grond in ‘n houer sit en julle klippies daarin begrawe. Dan kan julle die houer in die huis bêre en elke dag daar verby stap.
コメント