Erediens vir 10 Mei 2020
Hebreërs 13:8
Hallo! Ons het al twee nuwe dinge van die erediens geleer – kan jy onthou wat dit is? # Wat is die erediens? # En wat is die votum? Goed, kom ons begin met ons erediens 😊 Votum Het jy geweet dat die votum partykeer vir jou ‘n clue gee oor waaroor die dominee gaan praat? Dis oulik né! Vandag gaan ons weer ‘n responsoriese votum doen. # Kan jy onthou wat dit beteken? Dit beteken dat iemand lees as die “leser” en dan gaan almal anders antwoord as die “gemeente”. Julle kan die woorde vooraf leer voordat julle die votum saam sê. Kom ons probeer: L: God is altyd by ons. G: God is altyd dieselfde. L: God sal ons nooit laat gaan nie. G: God is altyd dieselfde. L: God is baie lief vir ons. G: God is altyd dieselfde. Amen. # Wat dink jy is die leidraad vir die preek wat die votum vir ons gee? Rustig word Kom ons haal diep asem. Ons wil nou net dink aan die mooi goed van die wêreld. # Kan jy aan ten minste 5 goed dink? Sê dankie vir God vir sulke mooi dinge. Seëngroet # Onthou julle nog hoekom ons mekaar groet in die kerk? Gee vir elke persoon nou die geleentheid om die seëngroet te sê. “Hallo! Jesus is baie lief vir jou. Ek is ook baie lief vir jou.” Steek die Christuskers aan Vanoggend steek ons die kers aan as ‘n herinnering dat God altyd dieselfde is. God verander nooit nie. God is God. Lofprysing Kom ons staan en ons loof die Here met alles in ons! - He’s alive (https://www.youtube.com/watch?v=N29pfecIiYE) - Dis so lekker om die Here te dien (https://www.youtube.com/watch?v=1yLfIxme3Uk&list=PLWg9DbnoESpnxUKJYz6msqOLZACOPPKHB) - Staan op en sê nou (https://www.youtube.com/watch?v=e0t5yqwESrA&list=PLWg9DbnoESpnxUKJYz6msqOLZACOPPKHB&index=4) - One way (https://www.youtube.com/watch?v=G689PlEXiXk&list=PLWg9DbnoESpnxUKJYz6msqOLZACOPPKHB&index=11)
Hou styf vas! # Het jy al ooit op ‘n roller coaster gery? Hoekom/nie? Hoe het dit gevoel? Of hoekom wou jy dit nie doen nie? Ek hou glad nie van ‘n roller coaster nie…kom ek vertel julle hoekom. Op ‘n dag het ek en my drie sussies en my ouers na Gold Reef City toe gegaan in Johannesburg. Daar is verskriklik baie roller coasters en allerhande rides. Maar ek was baie bang om op een te gaan. Ek het maar net saam met my ma al die maklike rides gery, soos die tubes – dit is waar jy lekker lê en dryf op ‘n opblaas-tube. Die enigste gevaarlike ding daar is sonbrand! Maar my sussies wou baie graag gehad het dat ek saam met hulle moes ry. Ten minste net vir een ride. Daarom het ons na die kinderpark gegaan. Dit is die afdeling van Gold Reef City waar daar nie scary rides is nie. My sussies het gesê dat ek daar saam met hulle op ‘n wurm-roller coaster moet gaan. Hierdie wurm-roller coaster was nie eens vreeslik hoog nie, maar dit was vir my aaklig! Ek het heeltyd gedink ek gaan uitval! Toe dit verby was, was ek so verlig om terug op die grond te wees. Maar ek was meer verlig om te sien dat alles nog dieselfde was. My ouers en my sussies was nog daar en selfs die park het nog dieselfde gelyk. Dit was ‘n groot verligting. Baie jare later het ek een keer hier by Wild Waves se groot waterglybane afgegly. Ek was bang, maar ek het geweet dat alles steeds dieselfde gaan wees wanneer ek klaar gegly is. Die lewe is soms soos ‘n roller coaster # Dink jy die lewe kan soms vir ons voel asof ons op ‘n roller coaster ry? Partykeer gebeur daar goed in ons lewens wat ons bang maak. Dit voel asof daar dinge is wat net te rof is. Miskien moes jy al leer vir ‘n toets, maar die werk het soos net te veel gevoel. Of miskien het jy en jou maatjie baklei en dit het gevoel asof julle nooit weer met mekaar gaan praat nie. # Het jy al ooit so gevoel? Ek het al baie keer so gevoel. # Wat dink jy moet ons doen wanneer ons so voel? Kom ons klim van die roller coaster af Partykeer wanneer dit vir ons voel asof dinge net te veel is, kan ons ‘n oefening doen om kalm te word. Ons gaan die woord “kalmte” spel in hierdie oefening…is julle reg? K – kom ons sit op ‘n rustige plek A – asem drie keer diep in en uit L – luister na die klanke rondom jou of probeer om selfs jou hartklop te hoor M – maak jou hande oop en strek jou vingers T – tel tot vyf terwyl jy jou vingers strek E – “Ek is okay,” sê dit vir jouself todat jy okay voel. Dit kan baie keer voel asof ons nie weet wat om te doen nie. So kom ons probeer om elke keer wanneer ons so voel hierdie oefening te doen. Jesus is nie ‘n roller coaster nie Hebreërs 13:8 help ons vanoggend om rustig te word. Kom ons lees dit saam: “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde, Hy bly altyd dieselfde.” Vandag se vers leer ons dat Jesus altyd dieselfde is, maak nie saak wat in die lewe aangaan nie. Jesus is altyd by ons; altyd lief vir ons; altyd daar vir ons en sal ons altyd help. Dit sal nooit verander nie. Daarom kan ons altyd met Jesus praat. Ons kan selfs die laaste letter van ons “KALMTE”-oefening na: “Ek is altyd by jou,” want dit is die woorde wat Jesus vir ons sê. Elke dag. Amen. Gebed Vra iemand om te bid.
Dankoffers Gebruik nou die dankoffer-geldjie wat jy in die kerk sou ingooi en gooi dit in ‘n houer. Wanneer ons weer kerk het, kan jy jou houer saambring en dit alles daarin gooi. Of julle kan nou ‘n elektroniese betaling aan die kerk maak deur EFT of SnapScan 😊: ABSA BANK MARGATE - TJEKREKENING REK NO: 329 0144 212 TAK NO: 528 628
Aktiwiteit Ons gaan vandag op ‘n Safari! ‘n Safari is die teenoorgestelde van ‘n roller coaster ride. Met ‘n roller coaster is jou oë toe en jy is bang. Met ‘n Safari is jou oë groot oop om al die mooi goed raak te sien! So kom ons gaan…
Tuin Safari…
# Kyk of jy al hierdie voorwerpe kan kry en √ dit op jou Safari-lysie:
Iets wat met die letter “k” begin
‘n Hark
Iets groen
‘n Foto van ‘n voëltjie
Iets wat kan waai in die wind
Stokke
‘n Klip
Saadjies
‘n Foto van ‘n gogga
Miere
Bietjie grond
Iets wat begin met die letter “r”
‘n Slak
Water
‘n Blom
Onkruid 😉
Huis Safari…
# Kyk of jy al hierdie voorwerpe kan kry en √ dit op jou Safari-lysie:
Iets wat met die letter “b” begin
Iets gesond
Iets pers
‘n Prent van iets mooi
‘n Dier
Iets wat sag is
Iets waardeur jy kan kyk
Iets waaragter jy kan wegrkuip
Iets wit
Iets wat jy kan lees
Iets wat met die letter “y” begin
Iets waaruit jy kan drink
Iets soet
Iets waarmee jy jou tande borsel
‘n Foto van jouself
‘n Geldjie
Commentaires