HOE? WAAR? WANNEER?
'n NG Margate tuisgeloof Bybelstudie-reeks oor Vrede
10 Augustus 2020
Filippense 4:13; Jesaja 40:31; Habakuk 3:19
ONS KOM VOOR GOD…
Ons gaan in hierdie Bybelstudie-reeks elke keer begin met ‘n K.A.L.M.T.E. oefening:
K – Kom ons word rustig daar waar ons nou is.
A – Asem diep in en uit (drie keer).
L – Let op hoe jou lyf ontspan
M – Moenie enige gedagtes keer nie, maar laat dit verby jou vloei.
T – Tel in jou kop drie dinge waarvoor jy vandag dankbaar is.
E – “Ek is okay,” – sê dit vir jouself hardop.
Daarna kan jy tot die Here bid.
TEKS
* Lees Filippense 4:13; Jesaja 40:31; Habakuk 3:17-19 en merk wat jou aanspreek.
** Lees Filippense 4:13; Jesaja 40:31; Habakuk 3:17-19 en gesels saam oor die gedeeltes wat vir julle uitstaan.
BOODSKAP
Die volgende definisie van “veerkragtigheid” is opgeteken: “Veerkragtigheid verwys na die vermoë om te groei en te floreer wanneer jy met uitdagings gekonfronteer word, asook om terug te bons wanneer jy teenspoed beleef. Veerkragtigheid is nie slegs noodsaaklik vir oorlewing in ‘n onsekere en veranderende omgewing nie, maar ook om uit te styg bo daardie moeilike omstandighede.”
In al die tekste in die Nuwe-Afrikaanse vertaling wat hierbo aangeteken is, kom die woord “krag” na vore. In elke konteks waar dit opgeteken is, word van die Here gepraat wat aan Sy kinders krag gee. Ek vermoed in hierdie dae waarin ons leef is dit die een ding waarom almal bid: ”Here gee tog vir my krag vir vandag.” Of dalk: Here, ek het nie meer krag om hierdie beproewing te hanteer nie. Ons liggaamlike en geestelike batterye het nodig om gelaai te word.
Krag en veerkragtigheid hoort vir my saam. Daar is baie uitdagings wat ons in die gesig staar. Die geheim is om met die Here se krag elke keer weer op te staan en terug te bons. Dit kan mense doen wat tyd maak om by die Here hul batterye laai, veral in gebed.
Die apostel Paulus moes ’n hele paar uitdagings hanteer. Hy sê in 2 Korintiërs 1 dat hy baie moeilikhede moes hanteer. Hy het soms selfs die hoop om te bly lewe, laat vaar. Hy skryf egter ’n paar hoofstukke verder in 2 Korintiërs 4: “Ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie. Ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie. Op die grond neergooi maar nie vernietig nie. Paulus en dit geld vir elke kind van God, kon terugbons na terugslae met die Here se krag.
Paulus sê in Filippense 4:13 dat hy tot alle in staat is deur Christus wat vir hom die krag gee. Paulus het tye van oorvloed en tye van gebrek gely. Die oorvloed het nie gemaak dat hy van God vergeet nie en die swaar tye dat hy nie vir God vervloek het nie. Hoe? Deur te onthou wie vir hom elke dag krag gee om die dag te hanteer. Herinner jouself elke dag deur hierdie vers te herhaal: Ek is tot alles in staat deur Christus wat my die krag gee. Dit vra dat mens jou eie broosheid sal erken, jou trots in die sak steek en bereid wees daartoe om op die Here en ander te steun. God se krag maak gebreekte potlode weer skerp het iemand êrens geskryf.
Dan is daardie bekende teks in Jesaja 40:31:” dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.” Die arend is ‘n simbool van krag, spoed (Job 9:26, 2 Sam 1:23, Jer 4:13), uithouvermoë, profetiese versiendheid, sorgsaamheid (Deut 32:11), onsterflikheid en ewige jeug (Ps 103:5) en vele meer. Die profeet gebruik die beeld van die arend om die gelowiges te bemoedig, en sodat hulle hul vertroue op die HERE sal stel. Die HERE sal hulle toerus met die vermoë van die arend sodat hulle nie moeg of mat sal word nie. Wanneer die arend sy vlerke oopvou dan dra die wind hom tot bo die hoogste wolke, bokant die storm wat hieronder mag woed en gier, na daar waar die stilte heers. As die storms van die lewe vir jou te erg begin word, gee jou volkome aan die HERE oor. Hy sal vir jou kalmte gee. Hy sal jou die vermoë van die arend gee en jy sal uitstyg tot aan Sy Vaderhart waar jy jou rus sal vind.
Habakuk 3:17- 19 ken ons almal: “Die Here maak my voete soos die van ’n ribbok. Op hoë plekke laat Hy my veilig loop.” Dit is geskryf teen die agtergrond van moeilike en uitdagende tye in die geskiedenis van die Here se mense. Dit was tye waar verwagtinge teleur gestel het en dinge uitmekaargeval het.
“Hierdie gebed van Habakuk kon net sowel in vandag se Covid 19 tye gebid word, en word seker ook gebid. Want ons omstandighede vandag is nie baie anders as in die tyd van Habakuk nie. Ons het ook vandag krag nodig waar die vyeboom nie bot nie en die dae vorentoe nog onseker is. Dus: eintlik ‘n bekende gebed. Maar ook ‘n gebed wat ek hoop julle vandag sal bid.
Hoe sou ons hierdie gebed van Habakuk in die tye kon bid? Ons sou kon sê: Here, dankie vir alles wat U in die verlede vir ons gedoen en aan ons gegee het: Jesus Christus, die geloof, U alomteenwoordige liefde en vergifnis, ontelbare talente, vermoëns en geleenthede. Vriende, gemeentelede, leraars en ander familie wat ons gedra het. Soveel ondersteuning wat ons van soveel ander ontvang het. Maar ook vandag, Here, gee ons vandag ons dag se brood.
En juis daarom Here, waar die toekoms vir ons onbekend en onseker is, wil U nie tog steeds met ons wees nie. Gee ons krag vir vandag, vandag se brood. Here, as dit U wil is, gee ons die goeie, gee ons die voorreg om U elke dag in ons lewens teenwoordig te kan beleef, vergewe ons, wees geduldig met ons, ondersteun ons. En Here, leer ons om die dinge wat ons van U ontvang, ook vir mekaar te gee. Dieselfde liefde, dieselfde genade, geduld, vergifnis, ondersteuning, trou en versorging.
Here, wil U veral met ons wees daar waar ons en ander mense in ons gemeenskap en gemeente en land swaarkry. Wees met ons in al ons sorge, hartseer, mislukkings en teleurstellings. Tel U ons hande op waar ons dit nie meer self sal kan doen nie, gee moed waar moedeloosheid ons mag bedreig, gee hoop waar hooploosheid aan ons mag vreet. Die Here gee vir jou genoeg krag vir vandag, Sy genade is altyd meer as genoeg. Shalom
LIED:
Nogtans – Retief Burger https://youtu.be/Xh9zXsGr7Xg
AFSLUITING
* Lees die seënbede vir jouself en sluit daarna af met gebed.
** Lees die seënbede vir almal in die groep en sluit daarna af met gebed.
Habakuk 3:17-19 Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder. Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van 'n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop.
Comments