‘n NG Margate tuisgeloof Bybelstudie-reeks oor Vrede.
ANGS & PANIEK
22 JULIE 2020
PSALM 23
ONS KOM VOOR GOD…
Ons gaan in hierdie Bybelstudie-reeks elke keer begin met ‘n K.A.L.M.T.E. oefening:
K – Kom ons word rustig daar waar ons nou is.
A – Asem diep in en uit (drie keer).
L – Let op hoe jou lyf ontspan
M – Moenie enige gedagtes keer nie, maar laat dit verby jou vloei.
T – Tel in jou kop drie dinge waarvoor jy vandag dankbaar is.
E – “Ek is okay,” – sê dit vir jouself hardop.
Daarna kan jy tot die Here bid.
TEKS
* Lees Psalm 23 en onderstreep die gedeeltes wat jou aanspreek.
** Lees Psalm 23 en gesels saam oor die gedeeltes wat vir julle uitstaan.
BOODSKAP
Het jy al agter gekom hoe ons dieselfde woorde vir alles gebruik? Ons sê: “Ek is hartseer,” of “Ek is gespanne,” vir baie emosies. En nie elkeen van daardie emosies is noodwendig hartseer of spanning nie. Maar ons is nie gewoond, of goed daarmee, om te verwoord hoe ons oor goed voel nie. So ons gebruik maar een woord vir alles.
Maar kom ons kyk ‘n bietjie na die definisies van hierdie baie bekende emosies:
Stres: ‘n inwendige of eksterne, fisiese-, verstandelike- of emosionele-faktor wat spanning in die liggaam veroorsaak.
Angs: ‘n respons op die stres-faktor(e). ‘n Gevoel van bekommernis, senuwee-agtigheid of ongemaklikheid oor iets waarvan die uitkoms onbekend is.
Paniek: ‘n respons op angs. ‘n Skielike, onbeheerbare gevoel van vrees of angs wat oorgaan in skielike, ondeurdagte gedrag.
Wanneer ons dus sê dat ons gestres is, is dit nie noodwendig dieselfde as om angs te beleef nie en vice versa. Maar dit is belangrik om te onderskei tussen ons emosies sodat ons dit beter kan verwoord.
As jy dus na hierdie drie woorde kyk en jy dink oor die tyd van inperking, watter woord verwoord jou emosies en gemoedstoestand? Is jy gestres? Beleef jy angs? Of is jy paniekerig.
Van al drie hierdie woorde is paniek die een wat soms verwoesting kan saai. Vanuit intense en skielike emosies van angs, kan mense oorgaan in ondeurdagte, verwoestende gedrag. Soos bv om op geweldadige maniere te protesteer. Paniek laat jou glo dat daar geen ander moontlike oplossing is nie. Jy is vasgekeer.
Daarom is dit belangrik dat ons weet wanneer ons sulke emosies beleef. Dit maak jou nie ‘n slegte mens as jy paniekerig raak nie. Maar ons kan ook sekere geloofsgewoontes aanleer om te keer dat ons reaksies op ons emosies verwoestend is. ‘n Oefening soos die een wat ons aan die begin gedoen het, werk goed.
Maar wat het hierdie te doen met vrede?
In hierdie Bybelstudie-reeks vra ons drie vrae: hoe, waar en wanneer.
Hoe kan ek vrede in die tye vandag ervaar as daar soveel meer dinge is wat stres, angs en paniek in my bevorder?
Waar kan ek dinge sien of leer wat vredevol is?
Wanneer gaan vrede my lewe beheer i.p.v. al hierdie slegte emosies?
So wanneer ons vra “Hoe?” dan onthou ons die woorde van Psalm 23: “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In U hande is ek veilig.” Ja, daar is baie dinge wat stres, angs en paniek in ons wêreld bevorder. Maar wanneer ons besef dat ons in die hand van die Here is, kan ons ‘n oomblik van kalmte beleef. Ons kan diep asem haal en ons kan onthou dat die Here ons nooit verlaat nie.
Wanneer ons dan vra “Waar?” onthou ons weereens die woorde van Psalm 23: “Hy laat my rus in groen weivelde, Hy bring my by waters waar daar vrede is. Hy gee my nuwe krag.” So besef ons dat die goedheid van die Here ook in ons is, want God is by ons. In ons as Gees. God se vrede is dus reeds by ons. Ons moet net leer hoe om dit raak te sien.
Daarom kan ons vra “Wanneer?” en saam met die woorde van die Psalmis sê: “(Die Here se) goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae.” Ons kan dus reeds deur die vrede van die Here verander word, want ons is reeds in die huis van die Here.
Amen.
LIED:
Psalm 23 (https://www.youtube.com/watch?v=Mo3HgtT_OiE)
AFSLUITING
* Lees die seënbede vir jouself en sluit daarna af met gebed.
** Lees die seënbede vir almal in die groep en sluit daarna af met gebed.
Mag die Here van vrede by jou wees. Mag God jou Lig en Hoop wees. Mag jy tuis wees in die huis van die Here. Amen.
Yorumlar