top of page
Writer's pictureNG Margate

God verander die wêreld

Erediens vir 19 April 2020

Lukas 6:27-36

Hallo!

Vandag sou die kategese begin het, maar ons het nogsteed lockdown. Darem kan ons steeds oor die tegnologie met mekaar gesels. Ons kan ook steeds kerk hê, want God woon nie in die kerkgebou nie. God is orals en ook by ons. So kom ons begin met ons erediens.

# Weet jy wat beteken “erediens”?

Kom ons verdeel die woord in twee woorde – “ere” en “diens”. As ons sê ons bring ‘ere’ aan God beteken dit dat ons aan God dink, God loof en vir God dankie sê vir alles wat ons het. ‘n ‘Diens’ is die tyd wat ons gee om iets te doen. So ‘n erediens is die tyd wat ons gee om ere te bring aan God.

Nou is ons reg vir ons erediens.

Gebed

Sit op ‘n rustige plek en haal diep asem.

In en uit. Probeer dit so drie keer doen.

Vra iemand om te bid.

Seëngroet

In die kerk groet ons mekaar in die Naam van God. Weet jy hoekom?

Ons wil mekaar herinner daaraan dat God altyd by ons is.

Gee vir elke persoon nou die geleentheid om hierdie woorde vir mekaar te sê:

“Hallo! Jesus is baie lief vir jou. Ek is ook baie lief vir jou.”

Steek die Christuskers aan

In die kerk steek ons ook die Christuskers aan.

# Is die Christuskers Jesus?

Nee, maar dit gee ons ‘n teken om te onthou dat Jesus in ons harte leef.

Vanoggend steek ons die kers aan om te dink aan die toekoms.

# Weet jy wat beteken toekoms?

Dit is die tyd wat ons nog nie kan sien nie.

Ons wil vandag dink aan die toekoms en vir die Here vra om ons te help om reg te wees daarvoor.

Vra iemand om die kers aan te steek.

Of julle kan elkeen julle eie kers aansteek.

Lofprysing

Kom ons staan en ons loof die Here met alles in ons!

- Every move I make (https://www.youtube.com/watch?v=MPvnZILn6EY) onthou die bewegings!

- Loof hom met die tromme (medley) (https://www.youtube.com/watch?v=sDNhlwozvBM)

- Wie’s die Koning van die oerwoud? (https://www.youtube.com/watch?v=GFR2ZCQcUi0)

Aanbidding

Kom ons sit en dan sing ons die volgende lied:


Hoe moet ons bid?

Weet jy wat beteken dit om te bid?

Partykeer is dit baie moeilik om te bid en ander kere is dit baie maklik. Vir party mense is dit ook baie lekker om te bid.

Maar ek hou nie regtig daarvan om hardop te bid nie.

Ek word partykeer baie skaam en dan kan ek aan niks dink om te sê nie! Het jy al ooit so gevoel?

So vanoggend wil ek vir jou ‘n maklike manier wys om te bid.

Wys vir my jou hand.

Duim: wanneer ons ons duim sien, dan dink ons aan al die mooi goed wat God vir ons gegee het. Ons dink aan die natuur, ons dink aan ons families en ons vriende…enige iets wat God gemaak het. En ons sê dankie vir God daarvoor.

Wysvinger: wanneer ons ons wysvinger sien, dan dink ons aan al die mense wat hard werk selfs in hierdie tyd van die corona-virus. Daar is baie mense wat werk sodat ek en jy gesond kan bly. Daarom bid ons vir ons president, dokters en verpleegsters en die mense wat in die winkels werk.

Middelvinger: wanneer ons ons middelvinger, ons langste vinger sien, dan dink ons aan al ons familie en vriende. Dit is die mense wat vir ons die belangrikste in die lewe is. Ons bid vir hulle.

Ringvinger: het jy geweet jou ringvinger is jou swakste vinger? Nou wanneer ons na ons ringvinger kyk, dink ons aan al die mense wat nie so baie soos ons het nie. Ons bid dat dit met hulle ook sal goed gaan. Ons bid ook dat God ons sal wys waar ons hulle kan help.

Pinkie: die pinkie is die kleinste vinger. Dan kan ons bid vir onsself en met die Here gesels oor alles waaraan ons kan dink.

Gebed

Gee elkeen ‘n kans om die handjie-gebed te probeer.

Wat doen gebed aan my?

Daar is baie verskillende maniere om te bid. Alle mense bid nie dieselfde nie.

# Het jy al gehoor hoe mense bid?

# Hoe voel jy wanneer jy bid?

Dit is baie belangrik om te bid, want dit help ons om God se werk te verstaan.

# Weet jy wat is God se werk?

God werk in die wêreld deur die skepping en deur mense. Wanneer daar ‘n babatjie gebore word, is dit God se werk. Wanneer jy ‘n maatjie help, is dit God wat deur jou werk. God doen groot en goeie goed. Wanneer ons bid kan ons voel hoe goed die Here is. Niemand van ons voel bang as ons bid nie. Ons is miskien bang en daarom bid ons. Maar ons voel altyd beter as ons gebid het. So sien gebed leer ons dat daar vrede by God is. Daar is rustigheid by God.

God verander die wêreld.

As God goeie goed doen, en ons voel veilig by God, waardeur verander God dan die wêreld?

# Verander God die wêreld deur mense te straf? Of verander God die wêreld deur mense en die skepping lief te hê?

God verander die wêreld deur liefde.

Dit klink dalk baie makliker as wat dit is.

Daarom gaan ons vanoggend Lukas 6 lees (ABA-vertaling, aangepas):

“Ek (Jesus) sê vir julle wat nou na My luister: Julle moet lief wees vir julle vyande. Julle moet goed wees vir die mense wat vir julle haat. Julle moet die mense seën wat vir julle vloek. Julle moet bid vir die mense wat vir julle beledig. As iemand jou op jou wang slaan, dan moet jy jou gesig draai sodat hy jou ook op jou ander wang kan slaan. Julle moet aan ander mense doen soos julle graag wil hê hulle moet aan julle doen. Julle moet vir alle mense lief wees. Julle moet goed wees vir mense, julle moet vir hulle dinge leen, maar julle moenie hoop om iets terug te kry nie. Want God is goed vir almal, ook vir die mense wat nie dankbaar is nie en wat sleg is."

# Probeer gou om alles te onderstreep of neer te skryf hoe Jesus sê ons moet optree.

Jesus sê hier ‘n klomp dinge, maar die belangrikste is hierdie: julle moet goed wees vir mense, want God is goed vir almal, ook vir die slegte mense.

Daar is baie mense wat baie lelike dinge doen wat baie mense kwaad maak.

En wanneer mense kwaad word vir slegte mense, sal hulle baie lelike goed oor hulle sê en aan hulle doen.

Maar Jesus kom en sê dat ons selfs vir die slegte mense moet lief wees. Dit beteken nie dat ons moet sê dat die slegte mense nou goeie mense is nie. En dit beteken ook nie dat ons moet toelaat dat hulle aanhou slegte goed doen nie.

Nee, dit beteken ons wil hulle verander deur in liefde vir hulle te bid.

Want dit is wat Jesus aan die kruis gedoen het.

Amen.


Dankoffers

Gebruik nou die dankoffer-geldjie wat jy in die kerk sou ingooi en gooi dit in ‘n houer. Wanneer ons weer kerk het, kan jy jou houer saambring en dit alles daarin gooi.

Of julle kan nou ‘n elektroniese betaling aan die kerk maak 😊:

ABSA BANK MARGATE - TJEKREKENING

REK NO: 329 0144 212

TAK NO: 528 628

Aktiwiteit

Treis jou hand af en kleur elke vinger ‘n ander kleur in. Skryf die betekenis by en sit die handjie onder jou kussing. Elke aand voordat jy gaan slaap, dan kyk jy na jou handjie en onthou vir wie jy kan bid. Onthou ook om jou prentjies te stuur na Ds Lerisa toe 😊.

70 views0 comments

Recent Posts

See All

댓글


bottom of page