top of page
Writer's pictureNG Margate

GOD SE MISSIE

OM LIEF TE HÊ SOOS JESUS

‘n NG Margate tuisgeloof Bybelstudie-reeks


22 JUNIE 2020

ROMEINE 5:5


ONS KOM VOOR GOD…

Kom ons word rustig in die teenwoordigheid van die Here.

Haal diep asem: in en uit.

Wanneer jy reg is, bid tot die Here.


YSBREKER

# Het jy al ooit gewonder of God ‘n plan het met alles?

# Het jy al ooit gewonder wanneer daardie plan gaan aanbreuk?

# Wat dink jy is God se plan?


LOFPRYSING EN AANBIDDING

Ons gee vir jou die skakels vir die volgende liedere. Jy kan dit luister of saamsing. As jy nie YouTube wil gebruik nie, kan jy ook na die alternatiewe liedjies kyk.


Lofprysing

Kom ons loof die Here met die volgende liedere:

Stilte

Bid saam voordat jy na die volgende lied luister.

Aanbidding

- Een toekomst vol van hoop (https://www.youtube.com/watch?v=0czjb1Wze20)

Alternatiewe musiek:

Lofprysing en aanbidding

LB 216 Sing met vreugde, sing

TEKS

* Lees Romeine 5:5 en onderstreep die gedeeltes wat jou aanspreek.

** Lees Romeine 5:5 en gesels saam oor die gedeeltes wat vir julle uitstaan.

BOODSKAP

In die Teologie praat ons dikwels daaroor om missionaal te wees. Ons gebruik dit in die sin om te sê dat ons moet uitreik na ander. Ek het nog altyd gedink dat om ‘n akademiese vak te hê wat hierdie vir my moet leer, baie vreemd is. Is missionaliteit nie veronderstel om deel van ons gesindheid te wees nie? Is die behoefte om ander te help, nie veronderstel om inherent deel van wie ons is, te wees nie?


Ek sou met my hele hart wou “ja” antwoord, maar die prent van die wêreld getuig van ‘n ander storie. Ons het laks geword in ons doelgerigtheid. Ons het mekaar oorreed dat ons hard moet werk sodat ek en my huisgesin die voordeel kan kry. Ja, ek sal gee wanneer ek kan of wil of iets by my het. Maar daar is steeds nie ‘n gesindheid van missionaliteit nie. Want missionaliteit vereis nie altyd dat jy ‘n broodjie gee nie. Nee, missionaliteit vra dat jy nie veroordeel nie; dat jy nie skinder nie; dat jy nie verhoudings vernietig nie – missionaliteit vra ‘n alternatiewe manier van lewe.


Dit is wat God kom doen het van die begin van alles af. God tree in en bied ‘n alternatiewe werklikheid. Vir elke woord van veroordeling, bied God genade. Vir elke uitgesluite persoon, hou God Gods arms wawyd oop. God bied ‘n alternatiewe manier van lewe, want God is ‘n alternatiewe manier van lewe.


Daarom wanneer ek praat van God se missie, oftewel so mooi in die Latyns missio Dei, dink ek nie dat God noodwendig op ‘n missie is nie – ek dink God is die missie. Want waar God is, daar tree mense ander op. Maar hoekom?


Dit laat my dink aan al die kere wat ons sê God praat met ons. Wanneer God met ons praat kan dit in verskillende vorme wees – ‘n gedagte wat by ons onstaan, ‘n gesprek wat ons het of selfs in musiek of die natuur. God inspireer ons. Daarom tree mense anders op wanneer God se Tenwoordigheid aangevoel word. Want daar waar God is, daar word mense geїnspireer deur die missie van God. En wat is hierdie missie wat vir my ‘n beskrywende naamwoord van God is?

Dit is God se inherente, inspirerende Wese van hoop.

‘n Hoop wat lewe en laat lewe.

‘n Hoop wat insluit.

‘n Hoop wat nie krampagtig vashou nie, maar oop is vir die misterie van die lewe.

In hierdie hoop kan ons deelneem aan die missie van God deur ook beskrywende naamwoorde te word – vriendelikheid, goedhartigheid, mededeelsaamheid, insluitend, akkommoderend, luisterend, eerbaar ensomeer. Want deur hierdie byvoeglike naamwoorde uit te leef, leef ons die alternatiewe werklikheid soos geїnspireer deur God.

BESPREKING VAN DIE BOODSKAP:

# As jy ‘n byvoeglike naamwoord kon wees, wat sou dit wees?

# Hoe laat hierdie boodskap jou nadink oor missionaliteit?

# Hoe dink jy kan ons ‘n gesindheid van missionaliteit kweek?

UITDAGING

Ons sukkel dikwels om ons gesindheid te verander oor dinge, omdat ons daarvan hou om aan die “normale” vas te hou.

Gebruik hierdie geleentheid om uit een van jou “comfort zones” te klim. Dit kan groot of klein wees. Maar laat die Here toe om jou te inspireer op ‘n manier wat jy gedink het onmoontlik is.

AFSLUITING

* Lees die seënbede vir jouself en sluit daarna af met gebed.

** Lees die seënbede vir almal in die groep en sluit daarna af met gebed.

Mag die God van hoop by jou wees. Mag God se hoop deur jou leef, sodat jy kan tot ‘n inspirasie vir iemand anders kan wees. Amen.

79 views0 comments

Recent Posts

See All

WAARDIGHEID

Comentários


bottom of page