Erediens vir 24 Mei 2020
Josua 14:6-14
Hallo!
Kom ons hoor ‘n bietjie hoe dit met ons gaan…
# Hoe voel jy oor die “lockdown-level” waarop ons is?
# Wat mis jy die meeste?
# Wat van die “lockdown” hou jy van?
Ek hoop dit gaan goed met julle, maar ek weet almal by die kerk mis julle. Hopelik kan ons mekaar weer binnekort sien.
Kom ons begin met ons erediens:
Votum
# Kan jy onthou wat beteken die woord votum nou weer?
Die votum is die woorde wat ons gebruik om na God te roep.
# Beteken dit dat God dan ver of weg is?
Nee, dit wil ons herinner daaraan dat God altyd by ons is. Daarom sê ons die woorde om ons daaraan te herhinner.
Vandag gaan ons die votum lees. Vra iemand in die groep om dit vir julle te lees.
Maar voordat julle dit doen, kom ons word net eers rustig.
Haal diep asem: in en uit todat jy rustig is.
As julle dit so drie keer gedoen het, kan die leser die votum vir julle lees:
Ek kyk op na die berge en ek vra: “Van waar sal iemand kom om my te help?” 2Dit is die Hére wat my sal help, die Here wat die hemel en die aarde gemaak het. 3Hy sal keer dat jy nie val nie, Hy beskerm jou, Hy slaap nie. (Psalm 121:1-3)
Kom ons gesels
# Wat beteken dit as ons sê dat die Here sal keer dat ons val?
# Hoe voel jy daaroor dat die Here jou beskerm?
Seëngroet
Kom ons gee nou vir elke persoon die geleentheid om die seëngroet te sê.
“Hallo! Die Here is by jou. Jy is nooit alleen nie.”
Steek die Christuskers aan
Vanoggend steek ons die kers aan as ‘n herinnering dat God altyd by ons is, selfs al voel dit nie so nie. God help ons om goeie en groot dinge te doen.
Lofprysing
Kom ons staan en ons loof die Here met alles in ons!
- My God is so groot (https://www.youtube.com/watch?v=bfMRdorK_I4)
- Dis so lekker om die Here te dien (https://www.youtube.com/watch?v=1yLfIxme3Uk)
- Ek weet verseker (https://www.youtube.com/watch?v=PLHCBR5somQ)
Groot, groter……GROOTSTE
# Weet julle wat is ‘n chomp?
‘n Chomp is ‘n sjokolade. Dit is nie ‘n baie groot sjokolade nie, maar dit kan groot wees vir party mense…
Kom ons kyk hierdie video saam om te sien hoe groot ‘n chomp kan wees:
Vir ons is ‘n Chomp nie baie groot nie, maar dit was baie groot vir die klein seekoeitjie. Toe eet die groter seekoei dit sommer op! Dit was nie baie mooi van die groot seekoei nie.
Ons kan partykeer ook lelik wees met mense wanneer dinge wat vir ons klein is, vir hulle groot goed is.
# Weet jy waarvan ek praat?
Kom ek verduidelik…
Partykeer gebeur dit dat ons baie goed in ‘n vak by die skool is. Ons kry baie goeie punte en die klasse is vir ons lekker. Ons voel nooit gestres of gespanne as ons daarvoor moet leer nie. Maar dit kan ook gebeur dat iemand in daardie selfde klas baie sukkel met die werk. Vir hulle is dit glad nie maklik nie. Hulle sukkel om te leer en hulle voel gestres en gespanne daaroor.
# Dink julle dit is reg as ons sulke maatjies spot en terg omdat iets vir hulle moeilik is?
Nee, want nie alles is ewe maklik of moeilik vir ons nie.
Wat moet ons doen wanneer die uitdaging te groot vir ons voel?
# Weet een van julle wat ‘n “uitdaging” of ‘n challenge is?
‘n Uitdaging is iets wat met ons gebeur, of iets wat ons kies, wat ons uit daag om te kyk of ons dit kan oplos of deur dit kan kom. Kom ons gee ‘n paar voorbeelde:
- ‘n Hindernisbaan (obstacle course) is ‘n uitdaging, want dit daag ons uit om te kyk hoe vinnig ons deur al die hindernisse kan kom.
- ‘n Toets kan ‘n uitdaging wees, omdat dit kyk hoe goed ons ons werk ken.
- En soms het mense snaakse uitdagings, veral op die Internet, soos om rou eiers te drink of allerhande snaakse goed te doen.
‘n Uitdaging kan klein, groot, sleg of lekker wees. Maar elke uitdaging gaan oor hoe ons optree – gaan ons die uitdaging reg kry, of gaan ons dit los.
# Kan julle dink aan ‘n uitdaging in julle lewens?
Kom ek vertel julle ‘n storie van iemand wat ‘n groot uitdaging gehad het. Ons lees van Kaleb in Josua 14:6-14 (baie aangepas):
Kaleb was ‘n man wat na ‘n ander land moes gaan kyk. Hy moes gaan seker maak dat die Israeliete daar sou kon bly. Maar hulle moes bang gewees het, want hulle het glad nie geweet hoe die land gelyk het nie. Kom ons lees wat gebeur:
Kaleb, ‘n man van Juda, het vir Josua, die volk se leier, gesê: “Jy wéét wat die Here oor my en jou gesê het. Die Here het dit vir Moses, man van God, gesê. 7Ek was 40 jaar oud toe Moses, die dienaar van die Here, vir my na die land toe gestuur het. Ek moes eerlik vir hom kom sê wat ek gesien het.
Die manne wat saam met my gegaan het, het dinge gesê wat die mense bang gemaak het, maar ek self het aangehou om my God die Here te dien. Moses het daardie dag vir my belowe en hy het gesê die Here is die getuie. En nou moet jy vir my hierdie bergland gee wat die Here daardie dag belowe het.
Kaleb was baie braaf en hy het na die land gaan kyk. Hy was ook dapper om vir Josua en Moses te sê wat hy gesien het, want daar was ander mense in die land. So hoe gaan die Israeliete nou daar kan bly?
Kom ons kyk wat gebeur toe:
Josua het vir Kaleb geseën en hy het vir Kaleb die stad Hebron gegee. Dit is hoekom Hebron nou nog behoort aan Kaleb, dit is sy stad omdat hy aangehou het om die Here, die God van Israel, te dien.
Josua het geweet dat Kaleb dapper is en enige uitdaging sal deurmaak, want Kaleb het op die Here vertrou. Daarom het Josua vir hom die stad Hebron wat in die land was gegee. Kaleb sou die stad gebruik om aan almal te wys hoe groot God is. God het Kaleb gehelp om die groot en nuwe uitdaging deur te maak.
Kom ons hoor by julle:
# Kaleb was ‘n man wat vir Moses iets moes gaan doen het. Wat moes hy gedoen het?
# Wat het die ander mense gedoen wat saam met Kaleb na die land toe gegaan het?
# Dink julle dit was vir Kaleb ‘n groot uitdaging om na die ander land toe te gaan?
# Dink julle dat Kaleb die uitdaging deurgemaak het?
Maak nie saak hoe groot jou uitdaging is nie…
Vir party mense kan ‘n uitdaging so groot soos ‘n berg lyk en vir ander is dit dalk klein. Ons moet onthou om mekaar daarmee te help, selfs al voel ons nie dieselfde daaroor nie. Want ons weet dat God by elkeen van ons is. Dit maak nie saak hoe groot of hoe klein ons uitdagings is nie – God is altyd by ons. God gee ons die krag om deur dit alles te kan kom.
# Wat dink jy moet jy doen wanneer jy deur die uitdaging gekom het?
Ons moet vir almal vertel hoe God ons gehelp het.
Amen.
Gebed
Vra iemand om te bid.
Dankoffers
Gebruik nou die dankoffer-geldjie wat jy in die kerk sou ingooi en gooi dit in ‘n houer. Wanneer ons weer kerk het, kan jy jou houer saambring en dit alles daarin gooi.
Of julle kan nou ‘n elektroniese betaling aan die kerk maak deur EFT of SnapScan 😊:
ABSA BANK MARGATE - TJEKREKENING
REK NO: 329 0144 212
TAK NO: 528 628
Aktiwiteit
Ons gaan vir ons ‘n origami berg maak!
1. Kry vir jou papier, ‘n potlood, ‘n liniaal, ’n pen en ‘n sker.
2. Volg hierdie prentjie se bewegings:
3. Gebruik jou pen om die volgende boodskap op jou berg te skryf:
Ek kyk op na die berge en ek weet: dit is die Here wat my help.
4. Sit jou origami berg iewers waar jy dit elke dag kan sien. Elke keer wat jy ‘n uitdaging het, kan jy onthou: dit is die Here wat ons daardeur help 😊
Comments