HAND-IN-HAND PINKSTERREEKS
22 MEI 2020
WELKOM!
Kom ons neem ‘n oomblik om rustig voor die Here te word.
Haal drie keer diep asem (in en uit) en met elke asemhaling fokus al jou energie op die rustige Teenwoordigheid van God.
Plaas jou hande met palms na bo, op jou knieë.
Kyk na jou handpalms. Sien jy die fyn lyntjies – die detail waarmee jy geskep is. Jou hande kan so baie doen, soms lelike dinge. Soms ongelooflike mooi dinge.
Gesels met die Here oor wat jy ervaar wanneer jy so na jou oop hande kyk.
* Open hierdie tuisgeloof Bybelstudie met ‘n opregte gebed tot God.
** Vra iemand om hierdie tuisgeloof Bybelstudie te open met ‘n opregte gebed tot God.
YSBREKER
# Het jy al ooit buite beheer gevoel?
# Wat gebeur met jou liggaam wanneer jy so voel? Veg jy? Vlug jy? Vries jy?
# Watter impak dink jy het “beheer” op ons lewens?
“NO HANDS, HANDSHAKE”
Vandag leer ons die tweede beweging van ons “no hands, handshake”:
Ons begin deur 1 meter weg van mekaar te staan. Strek nou jou regterhand na die ander persoon sonder om aan hulle te raak!
Raak nou met jou linkerhand aan jou oor.
Volgende keer leer ons nog ‘n beweging!
LOFPRYSING & AANBIDDING
Gebruik hierdie skakels om die Here te loof en te aanbid:
Lofprysing
- Hoe Groot is ons God (https://www.youtube.com/watch?v=oXIxcxoG8qY)
- U’t my vry gemaak (https://www.youtube.com/watch?v=tjtr9rONNrU)
- Oceans (https://www.youtube.com/watch?v=6GGFb6LcX3U)
Stilte
Bid saam voordat jy na die volgende lied luister.
Aanbidding
- Koning van die Konings (https://www.youtube.com/watch?v=HoqEB8tw-EY)
- Hoe beeldskoon is U Naam (https://www.youtube.com/watch?v=JkAoutsbEt0)
Alternatiewe musiek:
Youtube:
We are not alone (https://www.youtube.com/watch?v=eghlch_QdPM)
Liedboek:
LB 548 Ek weet Jesus lewe
LB 157 Here, Jesus ons is saam
LB 334 God is liefde! Juig ons harte
KOM ONS WONDER SAAM
* Lees Psalm 31:1-6 en onderstreep die gedeeltes wat vir jou uitstaan.
** Lees Psalm 31:1-6 en onderstreep die gedeeltes wat vir julle uitstaan. Gesels oor julle gedeeltes.
BOODSKAP
Het jy al ooit ‘n ervaring gehad waarin jy heeltemal magteloos gevoel het? Dit is aaklig om magteloos te voel. Ons kan dit ontken, maar almal van ons hou daarvan om in beheer te wees. Selfs al is dit net met sekere goed. Niemand van ons wil voel asof ons magteloos en doelloos rond sweef nie.
Daarom is dit dikwels vir ons ‘n groot traumatiese gebeurtenis wanneer ons besef dat ons nie alles beheer nie. Ons lewens lyk dalk anders as wat ons daaroor gedroom het. Mense tree anders op as wat ons sou wou gehad het. En meer dikwels as nie, is die lewe meer lukraak (random) as wat ons daarvan hou. Julle ken mos die bekende Engelse vraag: “Why do bad things happen to good people?”
Hierdie vraag spreek eintlik ons diepste vrese van die lewe aan: “Is alles net lukraak?”; “Gebeur dinge dan nie met ‘n rede nie?” Wanneer ons hierdie vrae vra is ons opsoek na een-of-ander vorm van beheer. Maar dit gaan ook dieper. Dit spreek ook ons diepste menslike behoefte aan nl. dat ons net wil weet dat ons oukei gaan wees.
Maar vir ons om hierdie vraag se antwoord te kry, moet ons laat gaan van die behoefte om alles te beheer. Want net omdat die lewe ‘n groot stuk lukraakheid het, beteken dit nie dat God nie steeds die Skepper en Onderhouder van alles is nie. Juis omdat God ‘n God van dinamiese lewe is en ‘n God van verhoudings is, weet ons dat God ook aan ons ‘n toekoms belowe.
Meeste van ons ken waarksynlik die baie bekende Jeremia-vers wat hiervan praat:
11Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting! (Jer. 29:11)
Tog moet ons verstaan hoe die mense van die Ou Testament na die sogenaamde toekoms gekyk het. Hulle het eintlik, metafories, met hulle rûe na die toekoms toe gestaan. Hulle het nie die toekoms gesien as ‘n voortuitbeplande of vooruitbestemde bloudruk vir die lewe nie. Inteendeel… Hulle idee van toekomstige lewe word gebaseer op die ervaring van die verlede. Omdat God gister by my was, weet ek dat God ook môre by my sal wees. Hoe môre ookal mag lyk.
Vir my is dit ‘n baie mooier boodskap, want nou wens ons vir mekaar God se ewige Teenwoordigheid toe. Maar nie dat ons dit eers eendag in die toekoms hoef te ervaar nie. Nee, nou wens ons vir mekaar reeds ‘n hede toe wat vol is van God se Teenwoordigheid.
Om dit te ervaar moet ons egter ons hande oorgee. Ons moet laat gaan van ons teuels wat ons op die toekoms wil hê. Ja, die lewe se lukrake kant kan ons soms skud, maar dit kan ons ook ‘n stuk vreugde gee wat ons andersins nooit vir onsself kon droom nie.
Amen.
KOM ONS WEES SAAM
# Hoekom dink jy is ons bang om te laat gaan van ons begeerte om die lewe te beheer?
# Waar dink jy probeer jy die lewe beheer?
# Hoe kan ons ons hande oorgee aan God?
# Hoe dink jy sal die wêreld kan verander as ons probeer om mekaar minder te beheer?
TOT ONS MEKAAR WEER SIEN
Ons het dalk al seergekry in die lewe, omdat ons iets wou beheer (bv verhoudings) of ons dra dalk die seer van die lukrake kant van die lewe saam met ons (bv sterfte, ongelukke ens). Om ons hande oor te gee aan God beteken ook dat ons moet vergewe. Om kwaad te bly is immers ook ‘n manier om beheer uit te oefen.
Daarom is vandag se aktiwiteit ‘n persoonlike aktiwiteit. Gebruik die tyd wat jy het om ‘n brief te skryf waar jy die lewe, iemand anders of selfs jouself vergewe. So laat gaan ons ook van die goed wat ons beheer.
AFSLUITING
* Lees die seënbede vir jouself en sluit daarna af met gebed.
** Lees die seënbede vir almal in die groep en sluit daarna af met gebed.
Mag God wat lewe gee altyd by jou wees. Mag jy nie jou eie drome alleen probeer nastreef nie, maar mag jy God se stem hoor en so hoop vir die toekoms ontvang. Mag jy die vrede van God se Teenwoordigheid ervaar. Mag jy met sekerheid lewe dat jy altyd oukei sal wees, want God het jou altyd lief.
Amen.
コメント