OM LIEF TE HÊ SOOS JESUS
‘n NG Margate tuisgeloof Bybelstudie-reeks
26 JUNIE 2020
JOHANNES 14:1-7
ONS KOM VOOR GOD…
Kom ons word rustig in die teenwoordigheid van die Here.
Haal diep asem: in en uit.
Wanneer jy reg is, bid tot die Here.
YSBREKER
# Het jy vriende wat anders is as jy?
# Hoe moet ons mense hanteer wat ander oortuigings as ons het?
# Hoekom is dit vir ons so moeilik om mekaar te aanvaar?
LOFPRYSING EN AANBIDDING
Ons gee vir jou die skakels vir die volgende liedere. Jy kan dit luister of saamsing. As jy nie YouTube wil gebruik nie, kan jy ook na die alternatiewe liedjies kyk.
Lofprysing
Kom ons loof die Here met die volgende liedere:
- Alles vir my (https://www.youtube.com/watch?v=pYKXiHxE9qo)
Stilte
Bid saam voordat jy na die volgende lied luister.
Aanbidding
- As ek voor U voete val (https://www.youtube.com/watch?v=E2LSuRtYZVU)
Alternatiewe musiek:
Lofprysing en aanbidding
LB 167 Jesus, bron van al my vreugde
TEKS
* Lees Johannes 14:1-7 en onderstreep die gedeeltes wat jou aanspreek.
** Lees Johannes 14:1-7 en gesels saam oor die gedeeltes wat vir julle uitstaan.
BOODSKAP
Dit was nog altyd vir my moeilik om te verstaan as mense sê: “Daar is net een regte en een verkeerde ding.” Dit was ook nog altyd vir my vreemd as mense jou ontmoedig om iets te doen, want: “Dit is net nie wat mens doen nie.” Hoeveel keer het ons nie al sulke gesprekke met mekaar gehad nie? Ons voer daardie gesprek oor mense met tatoeërmerke, mense van ander rasse, mense van ander gelowe, geslagte, kulture ens. Baie van die mensdom se geskiedenis getuig ook van hoe ons baie hard probeer om nie te meng met mense wat anders is as ons nie. Maar hoekom? Hoekom is ons so bang vir diversiteit?
Miskien is ons nie soseer bang vir die diveristeit nie, maar eerder vir die onbepaalde hoeveelheid moontlikhede wat daarmee gepaard gaan. As daar immers net een smal paadjie was, sou dit baie makliker gewees het om te weet in watter rigting om te loop. En dit is dalk hoe ons onsself oortuig het – met daardie beeld van die smal en die breë pad. Ek onthou immers die plakkaat daarvan op die deur van my Graad 7-klas. Dit het my bang gemaak, maar nie omdat ek gevrees het dat ek miskien op die verkeerde pad kon wees nie. Dit het my bang gemaak dat mense so kon veroordeel.
Ons veroordeel diversiteit, waarskynlik omdat ons dit nie kan verstaan nie. Wanneer ons onsself op daardie smal paadjie verbeel, sien ons waarskynlik mense met dieselfde oortuigings as ons. Maar niemand van ons het dieselfde oortuigings nie. Nie eens Petrus en Paulus nie. Hulle het ook oor belangrike goed drasties verksil. Tog is albei se briewe in die kanon van die Bybel.
Want diversiteit is nie veronderstel om ons bang te maak nie. Diversiteit is soos die garing van ‘n Persiese Tapyt – elke unieke garing is nodig om dit die kenmerk van ‘n Persiese Tapyt te gee. So hoekom kan ons dit nie doen nie? Hoekom kan ons nie mekaar ag as unieke, kleurvolle garings in ‘n Persiese Tapyt nie?
Daarom het ons in vandag se Bybelstudie hierdie baie bekende verse van Johannes 14 gelees. Miskien het ons dit vir lank gebruik as die argument om te sê dat daar net een weg is. Maar wanneer Jesus praat van die een weg – praat Hy van Homself. Dit is slegs deur Jesus te ken wat ons die Vader kan ken. Hierdie “ken” in die Grieks is weereens iets meer as “weet van”. Dit verwys na ‘n intieme, diep, inherente bestaans-wete en ervaring van God Drie-Enig. Iets waarvan die Ou Testament ook getuig selfs al is Jesus Christus eers gebore in die Nuwe Testament. So, alhoewel Jesus die enigste weg na die Vader is, beteken dit steeds nie dat daardie weg vir elke persoon dieselfde moet wees nie. Want Jesus word dalk nie deur elkeen van ons dieselfde ervaar nie. Vir sommiges is Hy die Leermeester, vir ander die Verlosser, vir ander die Trooster, die Bemoediger, die Geneser – en dit maak Hom steeds nie minder Jesus nie. Die kleurvolle garings van Jesus se werk wys steeds net na een beeld: God. Want die een ding wat Jesus wel kom doen het is om die skeiding tussen ons en God en mekaar te kom herstel. En dit het Hy op baie maniere gedoen.
BESPREKING VAN DIE BOODSKAP:
# Hoe voel jy oor hierdie boodskap?
# Hierdie boodskap vra dat ons ons diversiteit vier, maar steeds gebruik om na God toe te wys. So hoekom pas die opmerking “anything goes” nie hierby nie?
# Hoe kan ons beter gesprekke hê met ons kinders en geliefdes sonder om mekaar se veroordeel?
UITDAGING
Neem ‘n oomblik om na te dink oor jou eie lewe. Miskien is daar iemand wat jou veroordeel het vir iets. Miskien het jy iemand anders veroordeel. Maak opreg tyd om met die Here daaroor te gesels.
AFSLUITING
* Lees die seënbede vir jouself en sluit daarna af met gebed.
** Lees die seënbede vir almal in die groep en sluit daarna af met gebed.
Mag die Skeppergod wat al die kleur en prag van die skepping geskep het, by jou wees. Mag Christus wat met jou ‘n persoonlike verhouding het, jou rig en lei. En mag die Gees jou ook op jou unieke maniere inspireer om God en jou naastes te ken. Amen.
Comments