top of page
Writer's pictureNG Margate

DIE BEGEERTE VAN BEHEER

HOE? WAAR? WANNEER?

‘n NG Margate tuisgeloof Bybelstudie-reeks oor Vrede.


17 AUGUSTUS 2020

PSALM 46


ONS KOM VOOR GOD…

Ons gaan in hierdie Bybelstudie-reeks elke keer begin met ‘n K.A.L.M.T.E. oefening:

K – Kom ons word rustig daar waar ons nou is.

A – Asem diep in en uit (drie keer).

L – Let op hoe jou lyf ontspan

M – Moenie enige gedagtes keer nie, maar laat dit verby jou vloei.

T – Tel in jou kop drie dinge waarvoor jy vandag dankbaar is.

E – “Ek is okay,” – sê dit vir jouself hardop.

Daarna kan jy tot die Here bid.

TEKS

* Lees Psalm 46 en onderstreep die gedeeltes wat jou aanspreek.

** Lees Psalm 46 en gesels saam oor die gedeeltes wat vir julle uitstaan.

BOODSKAP

Ons wil graag in beheer van ons lewens wees. Ek dink nie ek het al ooit iemand ontmoet wat gesê het dat hulle nie in beheer van hul eie lewens wil wees nie. Ja, natuurlik sê ons dat ons ons vertroue op God plaas. En ons sê dat God ons lewens “beheer”, maar ons wil nie regtig ooit laat gaan van daardie beheer nie. Ons wil weet wat om volgende te doen. Ons wil beplan vir môre; vir ons aftrede; vir ons toekoms.

Maar ek dink ook nie dat enige iemand werklik dink dat hulle dit kan beheer nie. Ons kan nie die toekoms beheer nie. Ons kan selfs nie eens die volgende paar sekondes beheer nie. Ja, jy het jou roosterbroodjie in die broodrooster gesit, maar voor jy jou oë kan uitvee – is jou broodjie verband.

Daarom wil ons ook graag die idee voorhou dat God ons lewens beheer. Want ons wil nie hê dat alles nou so onbeheersd moet gebeur nie. Maar beplan God werklik ons elke tree? Of is dit net weereens ons soeke, ons begeerte, na beheer wat geprojekteer word op God?

Natuurlik glo ek ook dat God vir ons goeie dinge wil hê. Ek glo nie dat God enige persoon half geskep het nie. God het dus ook geen persoon geskep met die doel om dit te laat sleg gaan met daardie persoon nie. Die bekende Jeremia 29:11 wat ons op so baie van CUM se produkte sien, lees immers:

“Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting!”

Maar vir my het die woord “’n” nog altyd uitgestaan. God kom nie na die volk, na die mense, toe en sê: “Ek het vir jou hierdie bloudruk beplan. Ek het vir jou hierdie spesifieke roete beplan,” nie. God het vir ons ‘n toekoms – ‘n verwagting – beplan. Ons moenie ons eie behoefte en obessie met beheer op God projekteer nie. Ons stap die lewenspad met die wete dat God ons voorspoedig maak – hoe ook al daardie voorspoed mag lyk sal net die toekoms kan wys.

Maar hierdie boodskap kan vir ons vreesaanjaend wees. Want wie is aan die stuur van die skip? Wie bepaal dan die koers van ‘n mens se lewe? Steeds God. Maar dit laat my dink aan Noag se ark. Noag se ark het geen stuurwiel gehad nie…

Ons wil dikwels vir God ‘n stuurwiel gee. Ons wil hê dat God ons moet stamp en stoot en stuur in ‘n rigting. Maar die leiding van die Gees inspireer ons om soos Noag se ark net te wees saam met God. As ons saam met God is, hoe kan ons dan immers in die verkeerde rigting gaan?

Wanneer daar dus slegte goed met ons gebeur is dit nie God wat ons probeer toets nie. Maar God is steeds by ons. En wanneer ons slegte keuses en besluite maak, verwerp God ons steeds nie, maar ons moet dit regmaak sodat ons weer deur die inspirasie van die Gees aangeraak kan word.

Ons obsessie met beheer keer dat ons dikwels die spontanïeteit van die lewe kan geniet. Ons wil die slegte dinge so ver weghou dat ons op die ou end ook ons vreugde weghou. As ons maar net ‘n klein bietjie wil laat gaan van die leitsels wat ons so styf vashou. Want hoe stywer ons vashou, hoe banger maak ons ook onsself. Want dinge werk nie uit soos ons gedink, gehoop en voor gevra het nie. Maar as ons soos Noag se ark sonder ‘n stuurwiel, in die teenwoordigheid van God leef, sal ons lééf. Nie half nie. Maar ons sal voluit leef in die verwagting dat God altyd by ons is.

Amen.

LIED:

AFSLUITING

* Lees die seënbede vir jouself en sluit daarna af met gebed.

** Lees die seënbede vir almal in die groep en sluit daarna af met gebed.

Mag die Here God van liefde by jou wees. Mag God se positiwiteit jou lewe bestraal. Mag jy deur die krag van die Heilige Gees as dissipel in hierdie lewe leef. Amen.

14 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page