24 APRIL 2020
JESAJA 40:31
INGENOOI DEUR GOD
Kom ons gebruik ‘n oomblik om rustig te word.
Haal diep asem. Fokus op hoe die asem in jou liggaam ingaan en weer uit geasem word.
Voel hoe jou gesigspiere ontspan. Jou wenkbrouspiere is ontspanne. Voel hoe al die stres en spanning uit jou gesig verdwyn.
Voel hoe daardie warm gevoel by jou nek afbeweeg tot in jou vingers en verder af tot in jou tone.
Jy is geanker.
Jy is veilig in die Here se teenwoordigheid.
* Open hierdie tuisgeloof Bybelstudie met ‘n opregte gebed tot God.
** Vra iemand in die groep om hierdie tuisgeloof Bybelstudie met gebed te open.
YSBREKER
# Sal jy jouself as ‘n geduldige persoon beskryf? Hoekom/nie?
# Hoekom sukkel baie mense om te wag vir iets?
# Waarvoor moet jy wag wat jou grensloos irriteer?
LOFPRYSING EN AANBIDDING
Ons gee vir jou die skakels vir die volgende liedere. Jy kan dit luister of saamsing. As jy nie YouTube wil gebruik nie, kan jy ook na die alternatiewe liedjies kyk.
Lofprysing
Kom ons loof die Here met die volgende liedere:
- Your love never fails (https://www.youtube.com/watch?v=6_KXsMCJgBQ )
- Die Almagtige (https://www.youtube.com/watch?v=eZ2MOgyLy_E )
Stilte
Bid saam voordat jy na die volgende lied luister.
Aanbidding
- Ek glo (https://www.youtube.com/watch?v=QFBwnISbljw )
- U is my toevlug (https://www.youtube.com/watch?v=4B60FQkEim0 )
Alternatiewe musiek:
Lofprysing en aanbidding
LB 163 Soos ‘n wildsbok
LB 219 Laat ons sing van ons Verlosser
LB 281 Lei ons Here, groot en magtig
TEKS
* Lees Jesaja 40:31 en onderstreep die gedeeltes wat jou aanspreek.
** Lees Jesaja 40:31 en gesels saam oor die gedeeltes wat vir julle uitstaan.
BOODSKAP
Ek is nie ‘n geduldige persoon nie. Ek hou nie daarvan om te wag vir iets nie. Selfs ‘n fliek of ‘n grappie of ‘n boek wat nie dadelik my aandag trek nie, pla my. Ek is waarskynlik nie die enigste persoon wat so voel nie. Maar met Covid-19 word ons gedwing om te wag. Alhoewel alle redes en maniere van wag verskil, is ons internasionaal nou in ‘n tyd van wag. Ons is wagtend op wat die toekoms vir ons inhou.
Dit is vreemd hoe obsessief ons as mense met die toekoms is – iets wat ons glad nie kan sien, voel of verander nie. Maar ons is obsessief besig om voor te berei vir die toekoms. Daarom kan ons dikwels vergeet om te wag. Ons wil dadelik besluite neem en onmiddelike resultate sien.
Ongelukkig is hierdie ‘n onvolhoubare leefstyl. Ons kort rus... en ons kort ‘n wagtende periode. Baie keer dink ons dat om wagtend te wees eintlik ‘n vorm van luiheid is. Maar om wagtend te wees beteken nie dat ons niks doen nie, ons wag aktief op die Here om vir ons insig en leiding te gee. Ons wagtende periode is die manier waarop ons gevorm word en waardeur ons leer. Daarom kan ons onsself afvra: is ek in ‘n wagtende periode van my lewe, of hou ek maar net aan goed doen omdat ek te bang is om dit te verander?
Want sien ons eie vrees vir mislukking en ‘n slegte toekoms keer ons om werklik hierdie vraag te antwoord. Wag ek vir die regte rede? Of stap ek weg vir die regte rede. Net omdat ons nou in ‘n internasionale wagtydperk is, beteken dit nie dat ons niks doen nie. Deur te wag, verander ons aktief die dinamika van hoe die wêreld werk.
Dit is presies ook wat gebeur wanneer ons ‘n leefstyl kweek waar ons wagtend op God is. Om wagtend op God te wees, beteken nie dat ons niks doen nie. Om wagtend op die Here te wees beteken dat ons aktief kies om daardie obsessie met die toekoms en die beheer van ons eie lewens, te laat gaan. Om wagtend op God te wees beteken om aktief God raak te sien. Om wagtend op die Here te wees is om in getrouheid diep asem te haal en God toe te laat om God te wees.
BESPREKING VAN DIE BOODSKAP:
# Wat dink jy is die verskillende maniere waarop ons wag? Bv. wag vir die ketel om te kook VS wag vir ons eindresultate om vry gestel te word.
# Hoe dink jy gaan die wêreld beïnvloed word deur hierdie internasionale wagtydperk?
# Hoekom moet ons onsself afvra of ons wag vir die regte redes?
# Hoe dink jy kan jy meer wagtend op die Here leef?
# Wat dink jy sal gebeur as die wêreld meer wagtend lewe?
UITDAGING
Ons volgende Bybelstudie is die 27ste April. Kom ons gebruik die tyd tot dan om die volgende uitdaging te doen. Kies ‘n tyd wat vir jou gewoonlik ongemaklik is, bv. baie vroeg in die oggend / in die besigste tyd van die dag. Maak die besluit om vir daardie tyd rustig te gaan sit en met die Here te gesels. Maak dit bietjie langer elke keer. Leer jouself die tegniek aan om wanneer dit ongemaklik of besig is, rustig te word in die teenwoordigheid van die Here.
AFSLUITING
Mag jy altyd wagtend op die Here wees.
Mag God deur jou werk, selfs wanneer jy voel jy het niks meer om te gee nie.
Mag God jou herstel en jou genees.
Amen.
* Lees die seënbede vir jouself en sluit daarna af met gebed.
** Lees die seënbede vir almal in die groep en sluit daarna af met gebed.
Comments